Die Weg

 

Genade is 'n onverdiende geskenk

Genade is 'n geskenk - niks meer en niks minder nie. Die Griekse woord vir genade word elders in die Skrif vertaal as 'n “gawe”. Paulus begin sy brief aan die Korintiërs deur te sê dat hy altyd God dank “vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het” (1 Kor 1:4). God se genade is 'n onverdiende guns. Die oomblik wat ons op 'n geskenk “geregtig” is (al is dit op ons verjaarsdag), is dit nie meer 'n geskenk in die ware sin van die woord nie.

Ek het eendag vir 'n kollega gevra wat hy sou sê as hy daardie selfde dag voor God moes verskyn en die Here vra hom hoekom Hy hom in die hemel moet toelaat? My vriend het dadelik geantwoord dat hy vir die Here sou sê dat hy totaal afhanklik was van sy genade. “Dis waar”, antwoord ek toe, “maar aan wie sal die Here genade betoon? Hoe gaan Hy dit bepaal?” My kollega het vir 'n oomblik nagedink en sê toe: “Dit sal afhang van die soort lewe wat ons hier op aarde gelei het”. Was hy reg? Nee! Ons kan nie God se genade “verdien” deur 'n mooi lewe hier op aarde te lei nie. Ons lees in 2 Timoteus 1:9 dat God ons verlos het, “nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus”.

In ons verstand mag ons saamstem dat God se genade nie verdien kan word nie, maar ons aanvaar ons seëninge asof ons tog daarop geregtig is. Byvoorbeeld, waarom is dit dat wanneer ons beproewinge ervaar ons onmiddellik wil weet “hoekom?”; maar wanneer ons God se seëninge ervaar, vra baie min van ons “hoekom?”. Die meeste van ons aanvaar ons seëninge as vanselfsprekend.

As genade op een of ander wyse verdien kon word, sou dit nie meer genade wees nie. “As dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie - anders sou die genade nie meer werklik genade wees nie” (Rom 11:6). Dit is nie maklik om te aanvaar nie, want ons leef in 'n wêreld waar genade 'n vreemde begrip is. Daar is byvoorbeeld 'n gesegde in die sakewêreld dat daar nie so iets is as 'n gratis middagete nie. Op een of ander manier sal ons in die toekoms iets in ruil daarvoor moet doen.

Terloops, wat is die verskil tussen barmhartigheid en genade? Die twee is nou verbonde aan mekaar, maar die beste manier hoe ek die verskil kan verduidelik, is dat God barmhartig is wanneer Hy ons nie gee wat ons verdien nie, en Hy is genadig wanneer Hy ons gee wat ons nie verdien nie. Ons verdien die ewige hel, maar ons kry dit nie vanweë God se barmhartigheid. Ons verdien nie die ewige lewe in die hemel nie, maar ons kry dit vanweë God se genade.

Uit: Die GOD wat ek LEER KEN HET, deur dr Arnold Mol. (Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy - www.cumuitgewers.co.za).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css