Die Weg

 

Die gemeenskap van die heiliges

“Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.” - Handelinge 2:41-42.

Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.” - Romeine 12:16.

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” - Efesiërs 3:17-19.

Christene bely volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges....” En hierdie belydenis het gelowiges oor alle tye en in alle plekke saamgebind.

Die gelowiges word hier “heiliges” genoem omdat hulle in Christus geheilig is, maar is dit werklik so in die daaglikse lewe? Hoe is dit moontlik om hierdie gemeenskap van die heiliges te bely en dit dan ook in die praktyk uit te leef?

As ons hierdie geloofsbelydenis net op die horisontale vlak beskou, naamlik van mens tot mens, vind ons naas vriendelike, sagmoedige mense ook norse, kortgebonde foutvinders en die eiewyses, en naas die armes ook dié met vele aardse besittings. Dan is dit moeilik, miskien onmoontlik, om met al die heiliges dieselfde gemeenskap te beoefen. En heel dikwels ontaard hierdie gemeenskap in groepies mense met ooreenstemmende gesindhede en/of gelyke welvaart. Soort soek soort lui die spreekwoord, of nie?

Die Bybel plaas egter hierdie geloofsartikel eers in die vertikale vlak, naamlik tussen Christus en die mens. Gemeenskap van die heiliges veronderstel die gemeenskap van sondaars. En dan is daar geen verskil tussen mense nie, want ons almal sondig en niemand het uit sy eie enige reg op die heerlikheid van God nie. Die liefde van God is egter so groot dat Hy hierdie sondaars, ondanks al hul eienaardighede en dwaashede, in Christus liefhet. Hierdie liefde is die sement wat die kerk bymekaarhou omdat die een kerkmens die ander liefhet, nie omdat ons so baie van mekaar hou nie, maar omdat ons besef dat ons almal sondaars is en net deur Christus gered is. Die Evangelie roep die mens op om die ander lief te hê, steeds met 'n beroep op die liefde van Christus. Dán ontdek ons agter die ander persoon die beeld van Jesus Christus. Gemeenskap van die heiliges kan alleen maar groei op die akker van God se groot liefde, .... die liefde desondanks.

Uit: Wat segt de Bijbel ervan?, deur ds H C Endedijk
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css