Die Weg

 

Waarheid of redelikheid – die groot geheim

Ons leef in 'n moderne wêreld waar gelykberegtiging, billikheid en verdraagsaamheid die orde van die dag is.

Maar wanneer dit om dinge gaan wat buite ons ervaringsveld lê en met die onsigbare werklikheid te doen het, kan die mens se oordeel oor geregtigheid, reg, waarheid en begrip gewis nie as maatstaf van die absolute waarheid geneem word nie. Waarheid is nie noodwendig wat 'n mens self vir waarheid hou nie. Dit is daarom uit die sekulêre (wêreldse) siening onredelik dat die weg na die hemel net deur Jesus Christus moontlik is (Joh 14:6).

Die mens wil sy eie siening wat reg en redelik is tot waarheid verhef. Met die toenemende fokus op gelykheid en selfverwesenliking, distansieer baie mense hulle van die vaste waarheid van God se Woord. Sommige mense glo dat hulle self verantwoordelik is vir lewe en dood en die toekoms van die mens, ander glo in die mag van die voorvadergeeste, Boeddhisme (waar amptelik geen god bestaan nie), Hindoeïsme (met hulle vele gode), Islam (Allah), die natuurgodsdiens (bv Sjamanisme waar jy in kontak kom met buite wêreldse energie) en die esoteriese (waar alles vermeng is).

Die vrome vrye geeste van vandag (“niks moet nie, alles kan”) vind dit onaanvaarbaar dat 'n mens die doel en die sin van hul lewe op die evangelie van 'n enkele persoon moet bou, wat volgens hulle uit nougesetheid en vooroordele bestaan. Omdat die waarheid wat van God kom, hom uitspreek téén die wêreldse praktyke en beginsels, beskou die wêreld dit as onverdraagsaam, partydig en onaanvaarbaar.  Watter mens laat hom sonder protes toesê dat hy verdorwe, onverstandig, onregverdig, bedrieglik, goddeloos is en altyd bereid is om kwaad te doen (Rom 3:10-18)?  Baie vind dit ook in 'n hoë mate onbetaamlik, aanstootlik, verwerplik en immoreel dat Jesus Christus aan die kruis vasgespyker is en sy kosbare bloed gevloei het tot vergewing van sonde. Kon God ons nie eenvoudig maar net vergewe het nie?

Nee, die mens is na die beeld van God geskape, maar deur die werk van Satan het die sonde in die wêreld gekom. Dit het gelei tot die verdorwenheid van die menslike natuur. Die sonde het die mens in die verderf en ondergang gestort. Daarvoor sou die mens moes betaal met die ewige verderf. Maar God het Hom uit liefde oor die mens (sy skepsels) ontferm. Hy het die mag van die groot verleier verbreek en as heilige en regverdige God ingestaan vir die sonde van die mens en het self betaal om dit weg te neem. Dit was die enigste weg om ons met God te versoen. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes 53:5-6; 53-vertaling). In Johannes 8:31-32 lees ons: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Jesus sê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (Joh 6:53-54). Dit is nie letterlik nie, maar sterk beeldspraak om aan te dui dat ons één word met Hom deur opregte berou en vaste geloof aan sy (onskuldige) en plaasvervangende offer in ons plek.

Hoe staan dit met ons? Aanvaar en erken ons die dinge van die geloof soos dit is (deur die Gees geopenbaar) of net soos ons dit wil sien (deur die tydsgees van die wêreld beïnvloed)? Maak ons ons gevoelens 'n maatstaf vir die waarheid? Leef en glo ons volgens ons eie luste? Is skuld net 'n kwessie van emosies?

Hoe meer beginselvas ons die evangelie van Jesus Christus leer, lewe, uitspreek en neerskryf, hoe meer weerstand sal ons ondervind, want sê Petrus: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (1 Pet 5:8).

Watter rol speel die Bybel in ons lewens? God se Woord wys vir ons die weg. In Jesus se hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:3 bid Hy: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Ons moet ons daarby hou en ook sê wat die Ou-Testamentiese profeet Samuel en die laaste rigter van Israel gesê het:  “En nou, Here HERE, U is God en u woorde is waarheid” (2 Sam 7:28; 53-vertaling).

-dw -

(Met erkenning aan Jörg Bauer en aanhalings uit sy boek: Der Sinn des Lebens)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css