Die Weg

 

Getuienis van die Gees

'Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.' - Romeine 8:14-16.

Waar staan ons? Hoe weet ons dat ons kinders van God is? Hoe weet ek wat in die toekoms op my wag?

Wanneer hierdie vrae 'n onrustigheid by 'n mens opwek, beteken dit dat die sekerheid en vertroue by jou ontbreek. Vrees is 'n slegte raadgewer! Wie met bewende knieë of in blye verwagting opkyk na Bo moet weet wat hy/sy in Christus het. Alles hang uiteindelik en beslissend daarvan af – om Hom te ken!

As straf nie ons beweegredes bepaal nie, omdat ons glo dat die bloed van Jesus Christus ons vryspreek by God, dan is ons vry en kan ons God as ons Vader beskou, en nie as ons Regter nie. Dan kan ons ons verheug in die wederkoms van Jesus en kan ons berusting vind in ons lewe hier op aarde.

In Mattheus 16:15-17 lees ons: ' “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.' Dit was nie uit sy eie intelligente beredenering of logiese gevolgtrekkings dat Petrus so 'n duidelike beskrywing van Jesus Christus kon gee nie. Petrus was maar net 'n eenvoudige visser van middeljarige ouderdom. Dit is aan hom geopenbaar Wie daar voor hom staan. Wat Petrus met sy mond uitgespreek het, was uiteindelik 'n belydenis van die geloof wat hy ontvang het. Daar sou egter nog baie dinge gebeur wat sy geloof sou toets: die dood en opstanding van Jesus op Golgota, en sy verloëning dat hy hierdie Jesus glad nie geken het nie. Dit verander egter niks daaraan dat hy Jesus as die Messias van Israel en die Seun van God erken het nie. Want ná hierdie voorvalle het dit net tot meer sielsverdieping by hom gelei. Petrus het dan ook, met die tyd, begin begryp dat 'n mens nie 'n kind van God word deur 'n vleeslike geboorte nie, maar deur 'n geestelike wedergeboorte. Hiervan skryf Paulus in Romeine 9:8: “Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” (53-vertaling). Dit is God se besluit en sy soewereine wil (die belofte) aan wie Hy hierdie ewige waarheid van die lewe in Jesus Christus openbaar. Ook ons kan ons uitverkiesing in geloof aanneem, omdat ons deur die Heilige Gees erken dat Jesus die vleesgeworde Seun van God is.

In Romeine 10:9-11 lees ons: 'As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”' Om Jesus te erken, beteken om kind van God te wees. Baie mense neem die Naam van die Seun van God op die lippe, maar of dit méér is as net lippetaal of 'n holle frase, sal 'n mens sien in die manier waarop hulle hul geloof in die praktyk uitleef: “'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.” (Jak 2:26).

In 1 Johannes 3:1 lees ons dat om Jesus te erken gelykstaande is daaraan om die liefde van God te erken: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.”

Uit: Glauben und Leben deur Jörg Bauer (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css