Die Weg

 

As die tyd vlieg

“Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos 'n gedagte. Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.” - Psalm 90:9-10 (83-vertaling).

Daar kom 'n tyd in elke mens se lewe dat jy voel dat die dae, weke, maande en jare letterlik verbyvlieg. Voordat jy dit besef, neem die lewe 'n wending waaraan jy voorheen nooit gedink en jou nooit oor bekommer het nie: pensioen, siektes, dokters, afskeid van geliefdes, mobiliteit ..... Dit is die banale werklikheid: dat ons ouer word en dat die lewe 'n einde het!  En dit is daadwerklik soos die Psalmdigter sê: “die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby” (53-vertaling).

Tog is daar 'n voordeel daarin om ouer te word. Ons sien dinge met ander oë – ons kan meer nugter daarna kyk. Soms leer jy jouself beter ken. En dan sien jy dinge in jouself waaroor jy nie baie gelukkig voel nie. Wat jy altyd as voortreflik beskou het, is later as maar net gewoon en selfs stompsinnig bewys! Hoeveel kere het jy nie dieselfde foute gemaak nie? 

Tog is dit goed om jou lewe te geniet terwyl jy nog jonk is. Prediker 11:9 sê: “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie.” Aan die een kant beteken dit dat jy vry is om te doen wat jy wil, maar dat jy ook moet dink wat jy doen, en dit moet doen met verantwoordelikheid aan God wat alles sien. Dit sou dalk voordelig kon wees as jy dán reeds die wysheid van die ouderdom gehad het om toekomsgerig te kon lewe. Maar tog bly dit 'n leerskool oor hoe alles in die lewe werk. En met die lewenservaring kom die rypheid – ook wat die geestelike dinge betref.

Die gees is die lewe. Ten slotte, of jy nou jonk is of oud, bly jy steeds afhanklik van die goedheid, lankmoedigheid en genade van God. Hoe ouer 'n mens word, hoe meer vind jy dat jy die verlossing en die genade van God bitter nodig het. Dit word vir jou duidelik dat die ewigheid in die hemel, wat God uit genade aan jou skenk, die mees waardevolste besitting is en iets is wat ons uit onsself nie verdien nie. Paulus sê dit in 'n neutedop in Romeine 6:23: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

Dáárdie lewe in Christus wat voor ons lê, vlieg nie weg nie – dit is ewig en permanent en tydloos. Ons moet ons tydelike lewe vanuit die perspektief van die ewigheid beskou en erken dat húlle wat uit God gebore is, die ryk van God nou reeds in hul harte dra. God is met ons al ons lewensjare en Hy begelei ons op ons aardse weg. Hy bedoel dit altyd goed met ons. Romeine 8: 28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

In die nié verre toekoms sal ons van geloof tot aanskoue kom en geen vrae meer hê nie. Daarin verheug ek my! Halleluja!

Uit: Biblische Kurzbotschaften deur Jörg Bauer.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css