Die Weg

 

Soos een wat die Onsienlike sien

“Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” - Hebreërs 11:27 (53-vertaling).

Ons lees in Deuteronomium 34:7 dat toe Moses op honderd-en-twintigjarige ouderdom gesterf het, sy oë nog goed was en sy krag nie ingegee het nie. Deur die genade van die Almagtige kon hy tot die einde toe volhou om sy Godgegewe taak te voltooi.

Wat was die geheim van Moses se krag? Hy was immers ook 'n feilbare mens en het by verskeie geleenthede in gebreke gebly om die wil van die Here te gehoorsaam. Maar hy het altyd weer die innige gemeenskap met die Allerhoogste gesoek, en dít was die bron van sy krag. Die skrywer van die Hebreër-brief sê dit duidelik: “Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” Hy is ook 'n toonbeeld van iemand waarvan Hebreërs 12:2 sê: “Hy het sy oog gevestig op die Leidsman en Voleinder van sy geloof.” (53-vertaling).  Net soos die aartsvader Abraham (Hebreërs 11:13), het Moses die beloftes uit die verte gesien en geglo en begroet.

Moses se innerlike krag het vroeg reeds duidelik geword. Deur die geloof was hy bereid om sy volk te midde van slawerny in die vreemde agter te laat om vir sy lewenstaak elders voorberei te word. Verder was hy onverskrokke; hy het nie vir die toorn van die Egiptiese koning teruggedeins nie. In die hand van die Almagtige was hy soos klei wat eers gevorm moes word; maar teenoor die wêreld was hy sterk en vasberade. Solank hy sy oog op die Onsienlike gevestig gehou het, het sy voet op hierdie weg nie gestruikel nie.

Ook ons kan soos Moses voortdurend volhou deur in heilige gesprek met die Onsienlike God te verkeer. Deur Sy inwoning in ons hart is Hy vir ons 'n werklikheid. Deur sy Gees vorm Hy ons tot gehoorsaamheid. En deur dieselfde Gees skenk Hy ook aan ons die krag om te volhard.

Gebed: Help ons, Here, om ook wanneer ons oud word, steeds van U teenwoordigheid bewus te wees. Laat dit ons in staat stel tot volgehoue oorgawe en vreeslose optrede in U diens. Amen.

Uit: My Tye in U Hand - Ds H C de Wet (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css