Die Weg

 

Om van die dood te red (2)

(Lees saam met die vorige)

Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee. “ - Daniël 2:24 (53-vertaling).

Daniël se diens aan God gaan nie oor in teoretiese beskouings of teologiese redenasie nie. Dit is deur en deur prakties. Daniël sit die openbaring wat hy van God ontvang het, direk oor in 'n reddende daad! Hy red die wyse manne van 'n geweldadige dood. Hier sien ons hoe 'n gelowige met God se openbaring omgaan, hom volkome daarop verlaat, en wat hy daarmee in Babel tot stand bring.

Ons moet dit ook duidelik besef en uitleef in die nood van óns eie Babel. Wyse mense en okkultiste kan ons wêreld nie red nie. En geweld kan ons wêreld ook nie red nie. Daar is slegs één ding wat Babel en die wêreld kan red. Dit is iemand soos Daniël – Daniël as die draer van God se openbaring. Teen alle pessimisme en wanhoop in verkondig ons aan die wêreld die lewensreddende krag van God se openbaring (in en deur Jesus Christus). As ons maar in volkome geloof daarmee handel en dit waag, gebeur daar vandag nog groot dinge. Soos God bereid was om vir tien regverdiges Sodom nie te vernietig nie, aan Paulus by sy skipbreuk die lewens van al sy medepassasiers gegee het, deur Jona Ninivé gered het en aan Daniël die lewe van die wyse manne gegee het – só gee God vandag nog aan óns die redding van die wêreld.

En dit staan vas en seker omdat ons deel het aan 'n soveel ryker openbaring wat ons ontvang het. Die Kerk van Jesus Christus kan nog baie méér glo in die wêreldreddende krag van God se openbaring. Moenie dat hierdie verwagting jou ontneem word nie. Verstaan jou geestelike, maar ook ook jou politieke en sosiale roeping. Ja, red die eer van God in hierdie wêreld, en red in die eer van God hierdie wêreld. Met God se openbaring in die hand is geen situasie hopeloos nie. God het sy barmhartigheid betoon aan die wyses van Babel en betoon dit ook aan almal vandag. Ons moet hulle nie deur die Ariogs van hierdie wêreld in stukke laat kap nie. 'n Getroue, gelowige Christen is van buitengewone betekenis vir die kulturele en politieke redding van volk en wêreld!

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css