Die Weg

 

Woestyntye

'Sommige mense het in 'n. dorre land rondgedwaal, in 'n woesteny; maar die pad na 'n bewoonde stad kon hulle nie kry nie. Hulle was honger en dors, hulle was heeltemal uitgeput. "HERE, help ons!" het hulle geroep, en Hy het hulle uit hulle nood gered.' - Psalm 107:4-6.

Ons ken almal daardie gevoel om “soos in 'n dor land rond te dwaal”. Dis die tye wanneer moed baie skaars word en wanneer alles voel na 'n dreigende ramp. Ons lag soms, maar dis net ons gesig wat lag; ons hart lag nie saam nie. Ons sing in die kerk, maar ons lippe maak klanke en ons siel is ver weg. Ons bid en soek om hulp by God, maar voel ons maak nie kontak nie. Ons is in die woestyn van die hart, 'n woesteny.

Die woestyn kom in die lewe van al die groot profete. Dit kom in die lewe van elke kind van God. Ek was op 'n dag die gas van mense in Namibië wat my op 'n uitstappie woestyn toe geneem het. Dit was groots en aanskoulik, maar om daar te oorleef is feitlik onmoontlik. Maar die Bybel leer dat die woestyn ook seëninge bring, uiteindelik. Jesus is daar deur engele gevoed. Die volk van God het daar geleer hoe om 'n volk te wees, een wat aan die Here behoort. Elia was daar.

Ons gaan soms deur 'n geestelike woestyn om aan die ander kant weer ons seëninge te tel. Want God verlaat ons nooit, nie in die groen weivelde nie en ook nie in die dor land nie.

Uit: Onder ewige vlerke, deur Izak de Villiers. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css