Die Weg

 

Die groot verwagting

Die Here Jesus het 'n wonderlike belofte gegee aan dié wat aan Hom behoort, en daardeur 'n verwagting wat deur geen ander oortref kan word nie. Luister na Hom en verbly julle in die hoop waardeur 'n mens hierdie lewe kan verduur, sodat jy geduldig kan wees in die dae van verdrukking (Rom 12:12). Luister en let op waar die bron van ons hoop lê. Luister na die woorde van Christus Jesus wat van ewigheid af met die Vader was, as Hy tot ons spreek. Hy, wat ter wille van ons mens geword het, maar nie soos alle mense 'n leuenaar is nie (Ps 116:11). Hy spreek tot ons. Die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh 14:6) spreek. Hy wat die wêreld oorwin het (Joh 16:33) spreek tot hulle vir wie Hy die wêreld oorwin het. Hoor, glo en verlang na wat Hy sê: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees” (Joh 17:24).

Wie is die “hulle” van wie Hy sê dat hulle deur die Vader aan Hom gegee is? Dit is hulle van wie Hy op 'n ander plek sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh 6:44). Dit is dus hulle wat Hy van die Vader ontvang het en wat Hy ook self uit die wêreld uitverkies en geroep het, sodat hulle nie meer van die wêreld sou wees nie, soos Hy ook nie van die wêreld is nie. Dis dié wat glo en erken dat Christus deur God die Vader gestuur is, sodat hulle vry sal kom uit die wêreld en nie saam met die vyandige wêreld verdoem sal word nie.

Daarom het die goeie Herder aan ál sy skape, die Hoof van al die lede van sy liggaam (Ef 4:15-16) hierdie prys beloof: waar Hy is, daar sal ons saam met Hom wees. En wat die almagtige Seun van die almagtige Vader sê, sal nie en kan nie anders wees nie.

Uit: Levende woorden van Augustinus, deur dr Sizoo
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css