Die Weg

 

'n Vuur wat nie uitbrand nie (1)


“Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’” - Mattheus 25:8.

Die aanhaling hierbo kom uit die gelykenis van die vyf onverstandige en die vyf verstandige meisies wat met hulle brandende lampe die bruidegom gaan inwag het. Die vyf verstandige meisies het genoeg olie saamgeneem sodat hulle lampe nie sou doodgaan voordat die bruidegom kom nie. Die onverstandiges het ook brandende lampe gehad, maar dié het doodgegaan nog voordat die bruidegom sy verskyning gemaak het.

'n Vuur wat doodgaan

Ons praat hier van die vuur van gees. En hierdie vuur kan uitgeblus raak. Dit is die vuur wat nie van God kom nie, wat Hy nie aangesteek het nie, maar wat van die mens self afkomstig is. Ons herken dit byvoorbeeld by mense wat die naam van Christene dra, maar wie se hart nie daarby is nie.

Daar is ongelukkig baie mense in kerke en gemeenskappe wat soos die “onverstandige meisies” is.  Hulle leef op gekoopte olie wat hulle van “smouse” gekry het. Dit het nie van God gekom nie en Hy het dit ook nie self aangesteek nie. Hulle gee voor dat hulle glo, terwyl hulle net 'n skyn van vroomheid het. Hulle vertoon pragtig van buite, maar hulle harte is nie regtig by God nie.

Daar is ook dié mense wat groter waarde heg aan ekstatiese gevoelens as aan die Woord van God. Maar wanneer hulle lewe grys en donker word, verdwyn hul emosionele bedwelming en lei hulle geloof skipbreuk. Dan gaan hulle vuur ook maar dood.

'n Ander groep “onverstandige meisies” is dié wat voortdurend sogenaamde Christelike waardes ter wille van politiese doeleindes verkondig, maar Christus self in hulle harte verloën. Die lampe van hierdie mense brand, maar die vlam bestaan uit 'n vuur wat hulle self aangesteek het en wat nie van die Here af kom nie.

In Levitikus word vertel dat die seuns van Aäron, Nadab en Abihu, baie beïndruk was met die vuur van God wat uit die hemel op die altaar geval het. Hulle het toe gedink dat hulle dit self ook moet probeer doen. Daarvan sê die Bybel: “Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was.” (Lev 10:1). Die volgende vers is skokkend: “'n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.”(vers 2). God is 'n heilige God. Dit is 'n gruwel vir God as ons glo dat ons ons eie Christelike vuur kan aansteek, die vuur van  “smouse”, filosowe of ekstremiste. Dit is letterlik om met die vuur te speel, of nog erger, met die dood. God bewaar ons in hierdie verwarrende tyd waarin ons leef van die vele vreemde vure van 'n valse geloof. Want in die uur van beslissing, wanneer die bruidegom kom, gaan hierdie lampe uit en dan was alles tevergeefs.

(Word vervolg – die Vuur van die Heilige Gees)

Pastor Wolfgang Wegert:  Ein Feuer, das nie verlischt – Teil I.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css