Die Weg

 

Om insig te verkry

En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader. En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.” - Genesis 41:51-52 (53-vertaling).

Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.” - Hebreërs 11:21-22 (83-vertaling).

Daar is tye in 'n mens se lewe dat jy voel asof jy vasgevang is deur jou omstandighede. Jy kan nie vorentoe beweeg nie omdat jy nie afskeid van jou verlede wil of kan neem nie, en verder ook nie jou huidige situasie kan aanvaar nie.

Dit is dalk hoe Josef gevoel het toe hy aan Egipte verkoop is. Hy is weggeruk uit sy gesin, en sy onbekommerde jeug het skielik tot 'n einde gekom toe hy oorgeplaas is in 'n onbekende, vreemde wêreld. Van terugkeer was daar geen sprake nie. Hy moes leer om hom by sy nuwe omstandighede aan te pas. Ons ken sy lotgevalle in die huis van Potifar en in die gevangenis. Maar uiteindelik het alles verander toe hy deur die Farao vereer en tot onderkoning gekroon is. Hy het 'n man van aansien geword. As daar later vir hom twee seuns gebore word, gee hy aan hulle name wat sy siel ontbloot. 'n Mens lees daarin die spanning van jare wat agter hom lê en wat hy moes oorwin. Manasse: God het my al die pyn van die verlede laat vergeet. Hy kon sy verlede afsluit en voortgaan met sy nuwe lewe.

Die verlede kan 'n gevaarlike mag oor ons uitoefen; die herinneringe kan ons vashou en ons verstik. Om aan te hou dink aan wat onherroeplik verby is, beroof ons van ons lewenslus en verlam ons. Dit is wel so dat die verlede bewaar moet word, 'n mens kan nie ontrou teenoor jou verlede wees nie. Maar dit neem nie weg nie dat elke mens vorentoe moet beweeg en nie vrugteloos moet bly staan by al die onaangenaamhede of trauma van die verlede nie. Die verlede kan 'n mens betowerend boei deur die skoonheid van dinge wat was; maar dit kan jou ook verpletter wanneer dit jou konfronteer met die onherstelbare  foute wat gemaak is, of met die smart of bitterdheid oor 'n verlies.

Josef moes baie van hierdie tipe gevoelens gehad het. 'n Mens kan jou maklik voorstel dat hy sy vaderhuis, sy land en sy taal baie gemis het; dalk het hy met verwyt in sy hart aan sy broers gedink; miskien het hy sy eie naïwiteit en eersug betreur. Tydens sy gevangenisskap kon hy ook sterk gedink het aan die sinloosheid van sy bestaan. Maar nou: God het my alles laat vergeet. Dit is die erkenning dat die verlede afgesluit is en dat hy die nuwe situasie aanvaar het. Één ding uit die verlede het hy egter behou: sy geloof. Daar was by hom geen sieklike, onvrugbare besig-wees met die verlede nie. En daarom kon hy, deur nie om te kyk nie, die hand aan die ploeg slaan. Hy het hom in dieselfde geesteshouding bevind as Paulus wat gesê het: “vergeet dit wat agter is” ( Fil 3:4). Geen weemoed, geen wraaksug, geen verduistering van die siel nie. Hy het 'n nuwe vryheid ontvang. Mag ons God bid dat Hy ook aan ons die vermoë skenk om te kan vergewe en vergeet.

Efraim: God het my vrugbaar gemaak in my land van ellende. Josef, wat aanvanklik gedink het dat sy lewe in die sand van Egipte sou eindig, het nou ingesien hoe die lyn van die geskiedenis moes voortgaan. Josef moes nog baie doen in Egipte. Hy sou daar met al sy talente diensbaar gemaak word aan die voortbestaan van die vreemde volk waarvan hy teen wil en dank deel geword het. Nog veel later sou hy begryp dat daar in die behoud van die Egiptiese volk 'n bedoeling was ten bate van die voortbestaan van Israel (Gen 50:20). Hy het 'n taak gehad om uit te voer. In die laaste instansie dien Josef as redder van sy volk en die een wat die heilsgeskiedenis voortsit. Sy lyding was nie tevergeefs nie. Hy het geleer om gelowig vooruit te kyk, verder as net die hede. “Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.” (Heb 11:22).

Wat vir die toekoms van Josef gegeld het, geld ook vir ons. Toe hy gesê het dat God hom vrugbaar gemaak het in sy land van ellende, is sy vroeëre situasie nie weer herstel nie; het die ou stand van sake nie weer sy loop geneem nie. Wat onsself betref sal ons nie meer op die ou manier kan voortgaan nie. Nee, baie dinge het onherroeplik verander. Onsself het ouer geword, die situasie en die taak het verander. Maar wat oorgebly het, is die geloof dat God sy planne het wat verder reik as ons insig! God plaas alles op sy tyd in 'n breër verband wat vir ons op die oomblik dalk nog onsigbaar is. Mag ons uit hierdie geloof die toekoms tegemoet gaan.

- dw-

(Met erkenning aan dr EL Smelik: Overjarige postille).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css