Die Weg

 

Keuse tussen lewe of dood

“... hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.” - Efesiërs 4:18.

“Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” - Romeine 6:23.

Dit is onmoontlik om in 'n enkele sin te sê wat die Bybel onder sonde verstaan. Sonde sluit in: hoogmoed, leuens en slegte begeertes. Sonde is wetteloosheid, opstand teen God en die aanhang van die negatiewe magte van die lewe. Sonde beroof die mens van die goeie in die lewe en laat die mens sy lewensdoel mis. Ja, sonde is veral die oortreding van die dubbele liefdesgebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Wie teen sy naaste sondig, sondig daarom ook teen God. Ons houding teenoor God word duidelik in ons houding teenoor ander mense.

Die straf op die sonde is die dood (Rom 6:23). Hierdie woorde lei tot misverstande en maak dat mense die begrip “dood” baie oppervlakkig beskou. God se Woord verstaan onder hierdie begrip nie net die biologiese dood nie, want dit hou veel meer in as net die liggaamlike dood waaraan alle lewende wesens onderworpe is. Die dood is 'n skeiding; die mens sterf as hy hom deur die sonde van God vervreem. Daarom word daar gepraat van die geestelike-, die tydelike- en die ewige dood.

Die mens wat sondig is geestelik dood. Hy ken God nie meer nie, hy dien die Here van die heerlikheid nie meer nie. Daar het 'n skeiding gekom tussen die heilige God en die mens wat sy eie weë soek. Ons weet van hierdie geestelike dood as die wroeging knaag aan die gewete en die duiwel heerskappy voer oor die mens. Tog is hierdie dood nie 'n finaliteit nie. Die weg terug is nie heeltemal versper nie. Daar is nog steeds tyd vir bekering. Maar as hierdie bekering nie plaasvind nie, gaan hierdie (geestelike) dood aan die einde oor in die onherroeplike staat van die ewige verlorenheid.

Alle mense sal die tydelike dood ondervind, waarvan die voortekens meeste van die tyd lyding en siekte is. Vir die ongelowige, sondige mens, is dit die eindstreep waar die dood hom as sy buit sal neem. Maar vir die gelowige, Godvresende mens, is die element van straf weggeneem. Ook hierdie tydelike dood het Christus in ons plek gedra. Leed, rou en lyding tref gelowiges en ongelowiges in dieselfde mate. En wie sê dat hierdie tydelike dood met alles wat dit voorafgaan vir die gelowige as straf dien, dalk as straf op 'n persoonlike sonde wat hy gepleeg het, beskuldig God dat Hy dieselfde eis twee keer indien, want Christus het alreeds daarvoor betaal.

As hierdie dood ingetree het, bring dit vir die ongelowige die ewige dood mee: die hel, die Godverlatenheid. Dan is daar geen omkeer kans meer moontlik nie. Godverlatenheid, dit wil sê, die skeiding wat eers net tydelik en voorlopig was, het nou 'n voldonge feit geword.  En dit is die vreeslikheid van die ewige dood, net so verskriklik as die Godverlatenheid wat Jesus Christus ter wille van ons op Golgota ervaar het. Maar vir die gelowige blokkeer Jesus Christus, met sy lyding op Golgota, die toegang na die hel.

Uit: Wat zegt de Bijbel ervan?, deur ds HC Endedijk (verkort).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css