Die Weg

 

Wanneer jy siekte of trauma ervaar

Siekte of trauma kan ons in een van twee rigtings dryf. Dit kan maak dat ons God vervloek omdat Hy ons ellende toelaat, of dit kan ons na Hom toe dryf om verligting te kry. Daar is 'n uitdrukking wat lui: “God help diegene wat hulleself help.” Ek dink eerder dit moet wees: “God help ons wanneer ons hulpeloos is”.

Siekte leer ons dat ons nie net God dien deur aktief besig te wees nie.  “Hulle wat net staan en wag, dien ook.” Die mens stel aktiewe diens voorop, maar God wys ons daarop dat Hy ook deur lyding verheerlik kan word.

Linda se immuniteitstelsel is deur chemikalieë vergiftig, sodat sy naderhand “vir die hele wêreld” allergies geword het. Linda was as jong volwassene vyf jaar lank in en uit intensiewe sorgeenhede. Sy het gesê: “Die meeste van die tyd kon ek nie samehangend dink nie. Ek was te besig om te probeer oorleef.

Gedurende daardie jare van intense lyding het Linda net een klein doel voor oë gehad. Om elke dag een versie uit die Skrif te lees en een minuut lank te bid. “En dit was 'n uitmergelende taak,” het sy gesê.

Toe sy die isolasie van die hospitaal, wat vir haar soos 'n gevangenis gevoel het, kon verlaat, het sy na ander mense begin uitreik. Sy het 'n organisasie gestig wat sy “Direct Link” genoem het. Die oogmerk daarvan was om vir 'n gestremde persoon 'n direkte verbinding met 'n bron van hulp te verskaf. Sy het gesê: “Die Here het my laat ly sodat ek die gestremdes in die lydende wêreld kan help.

Die Here Jesus het gesê: “Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê” (Mat 10:27). Wat beteken dit vir ons? Dit beteken om stil te wees, om na God te luister wanneer dinge op hulle ergste is, sodat ons met ander kan praat wanneer dit weer met ons beter gaan.

Oswald Chambers het dit so gestel: “Weet wanneer God jou in die duisternis plaas, en hou jou mond terwyl jy daar is ... in die duisternis is dit tyd om te luister en aandag te gee. Jy kan nie hoor wat God sê as jy met ander mense praat nie. Wanneer jy in die duisternis is, moet jy luister, en wanneer jy weer in die lig is, sal God vir jou 'n kosbare boodskap vir iemand anders gee.

Uit: Hope for the Troubled Heart, deur Billy Graham.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css