Die Weg

 

Onsigbare invloede

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” - Efesiërs 6:12.

Of ons dit wil weet of nie, ons leef in 'n samelewing waar baie van ons besluite buite onsself vir ons gemaak word. Dit is haas onmoontlik om in die moderne samelewing te leef sonder dat kragte van buite af ons gedagtes, emosies en gees probeer beïnvloed. Daar is so baie invloede, soos bv die subtiele advertensies in die media of die politieke opinies van leiers, dat dit vir ons moeilik is om onafhanklike en weldeurdagte keuses te maak of besluite te neem.

En hoe dit ook al mag lyk en wat 'n mens daarvan wil sê, dié invloede word vanuit hoër hoogtes gedryf. Alhoewel baie mense nie glo in die bestaan van goeie en bose magte nie, bevestig die ervarings van vele mense die bestaan van hierdie strydende magte. Die Skrif self getuig van die bestaan van die duiwel en sy groot mag: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8). Baie toegewyde Christene kan getuig van die duiwel se geweldige krag deur allerhande versoekinge in oomblikke van swakheid. Deur sy bestaan te ontken, gee jy aan hom die mag oor jou.

Daar is egter 'n Krag wat groter is as al die negatiewe en vernietigende kragte van die bose. Dit is die krag van God wat deur die werking van die Heilige Gees jou kan beskut teen al die ongewensde invloede van buite. “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jak 4:7-8). As jy Hom maar net wil toelaat om jou gees te beheers, dan het jy 'n ondeurdringbare skild: “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.” (Ef 6:11-13). Plaas daarom jou lewe onder die leiding van die Heilige Gees; laat Hy tot uiting kom in jou lewe, dan sal jy deur gebed die insig en wysheid bekom om die regte besluit op die regte oomblik te kan neem.

-dw -

(Met erkenning aan Arnold J Walker: Through the year with faith)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css