Die Weg

 

Om jou kans waar te neem

Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ‘n kosbare skat vir ‘n mens.” - Spreuke 12:27 (53-vertaling).

Ons hoor dikwels mense sê: “As ek maar net die kans gehad het!” Maar waar moet die kans vandaan kom? Volgens sommige se opinie moet dit uit die hemel val. Ja, en dan sou baie mense dit nog mis vang ook.

Salomo het geweet dat jou kanse in die lewe wel deur God gegee word, maar dat hulle deur die mens geneem moet word. Hy het geweet dat die mens self die tyd moet uitkoop. Hy het geweet dat sukses maar vir 'n klein deel uit geleentheid, en vir 'n groot deel uit vlyt, bestaan.

Soos Henry Ford dit gestel het: “Sukses is 5 persent inspirasie en 95 persent perspirasie.”

Het jy al die Spreuke van Salomo goed bestudeer? Doen dit gerus. Dit lees soos 'n verhaal. Salomo se lewensondervinding straal uit alles wat jy lees. In hoofstuk 12:27 sê hy: “Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie.”  Let goed op daardie beeld. Twee jagters gaan veld toe. Vir albei van hulle is daar dieselfde hoeveelheid wild. Die een is vlytig. Hy soek. Hy gebruik sy verstand. Hy put uit sy ondervinding. Hy skiet sy bok en bring kos huis toe. Die ander een is traag. Die wild is daar, maar die wild bly daar, want hy jaag dit nie op nie. Hy vind geen bok om te skiet nie. Hy gaan sonder kos huis toe.

Dit is ewe waar vir die geestelike lewe. Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie.” Die wild is daar. Dit is sy kanse. Vir hom is daar 'n geleentheid om 'n bietjie vreugde te gee of te ontvang. Hy kan vriendskapsbande smee. Hy kan die kwaad afweer. Hy kan aan ander bemoediging gee of dit self ontvang. Hy kan iets vir sy medemens doen. Hy kan iets vir sy Here doen. Maar . . . hy skep nie die kanse nie, hy jaag sy wild nie op nie. Waarom nie? Nie uit kwaadwilligheid nie, maar uit traagheid.

Traagheid neem so baie geleenthede van ons weg: baie geluk en baie seën. Daar is wonderlike geleenthede naby jou huis, jou plaas of jou werksplek. Seëninge wag op jou. Geleenthede wag op jou. Werk wag op jou. Die Here se “mooi so” (Mat 25:21) wag op jou. Die wild is daar, jaag dit net op!

Uit: Terwyl die ketel kook, deur ds John Murray du Toit
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css