Die Weg

 

As berge verdwyn

Hoe dikwels sê ons nie:“ek sien nie kans nie; dit lê soos 'n berg voor my”? Ja, ons kry almal hierdie berge op ons lewenspad. En wie kan sê: “Ek het nog nooit voor 'n berg gestaan nie”? Wie het nog nooit sy swaar las van droefheid, sy bittere teleurstellinge, sy ure van angs of sy trane van verdriet gehad nie? Wie het nog nooit 'n kruis moes dra wat hy gevoel het vir hom te swaar is nie? Vroeër of later rys daar voor elke lewensreisiger 'n verskriklik hoë en skynbaar onoorkomelike en wrede berg. Was daardie berg tog net nie daar nie, hoe gelukkig sou ek dan gewees het, dink ek.

Maar waar kom hierdie berge vandaan? Is hulle nie dalk om 'n spesifieke rede deur ons liefdevolle Vader op ons pad gebring nie? As ons tog maar net daardie berge as God se berge wil sien! Dan sal ons met ander oë daarna kyk. Dan sal hulle nie vir ons so hoog, so verskriklik, so donker, so onverbiddelik, so onoorkomelik, so wreed lyk nie. Maar sal ons besef het dat dit deel is van God se plan vir ons; dat dit 'n deel uitmaak van daardie lewenspad wat ons saam met Hom moet bewandel. So sê die HERE in Jesaja 49 vers 11: “Ek sal al My berge tot 'n weg maak" !

Dink daaroor na: dit is God se berge, nie ons s'n nie. En Hy sal al hierdie berge vir ons tot 'n weg maak. Gaan maar gerus terug na daardie lewenspad waarvoor jy bang is. Stap moedig voort. Berge sal daar wees, maar hulle is God se berge. En Hy sal 'n wonderwerk verrig net so wonderlik as dié wat Hy in Galilea gedoen het - Hy sal van daardie berg vir jou 'n gelyke weg maak waarop jy met gerustheid en vertroue kan voort wandel.

Watter heerlike getuienis is dit aan die wêreld wanneer die Christen sy God toelaat om vir hom 'n weg oor berge heen, deur hierdie lewe na die ewige woning, te baan waar “elke dal opgevul sal word, en elke berg en heuwel klein gemaak word, en die bult 'n gelykte word.” (vgl Jes 40:4).

Uit: Terwyl die ketel kook, deur ds John Murray du Toit (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css