Die Weg

 

Welkom in die wêreld van Christus die Here

Die gediggie van Mauricio Plat wat ek gister geplaas het, raak nogal 'n mens se hart en laat jou die wêreld sien soos dit werklik is: 'n wettelose, gebroke wêreld vol hartseer en verdriet. Dit is 'n wêreld waarin die mense sy eie god wil wees. Daarom bly die wêreld van Mauricio net 'n versugting, want die Bybel sê vir ons:

“Moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie.
Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen
” (Ps 146:3-4).

Tog is daar 'n beter wêreld, en dit is nie net 'n droom nie. Dit is 'n vaste belofte soos dit al eeue gelede geprofeteer is. Daarom gaan ek vandag vir Mauricio Plat antwoord, ook met 'n gedig. 'n Gedig deur Izak de Villiers gebaseer op die woorde van Openbaring 21:

Ek sien ‘n nuwe hemel kom,
‘n aarde nuut en vry.
Die see en al wat skei, verdwyn.
God self kom by ons bly.

Die nuwe stad, Jerusalem,
daal uit die hemel neer;
skoon soos 'n bruid in heerlikheid –
geliefde van die Heer.

Die Heer droog al die trane af,
verby is droefheid, dood.
Ja, pyn en smart wyk uit die hart –
ons moeite, angs en nood.

"Kyk, Ek maak alles nuut", sê God.
"Laat hom wat dors het, kom.
En hy sal vind hy is my kind;
Ek is 'n Gód vir hom!"

Oorwinnaars sal ons alles erf
en drink uit die fontein
van lewenswater, heerlik, rein.
En God sal oor ons skyn.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css