Die Weg

 

Paasfees - opstanding en lewe (4)

(Lees saam met die vorige)

“Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” - Johannes 11:25 (53-vertaling).

Wie is dit wat “sal lewe” al het hy ook gesterwe? Wie sal deel hê aan die groot wonder van Paasfees? Dit staan so wonderlik eenvoudig hier: “wie in My glo”.

Wat beteken dit om te glo? Wat is geloof? Waarop vertrou jy? En dit is juis hier waar die knoop lê! As ons op die mens vertrou, op aardse goed, op geld, op ons eie prestasie en krag, op die staat, kan ons nie terselfdertyd in Jesus glo nie. Die wêreld bars van die aanbiedings en mense glo allerlei dwase dinge. Oral roep dit ons toe: glo in my! Hulle beloof jou “lewe” - 'n mooi lewe, 'n luukse lewe, 'n gemaklike, gesellige en uitbundige lewe. As jy maar net aan hulle wil glo, dws as jy jouself met alles wat jy het, met liggaam en siel aan hulle wil oorgee en uitlewer.

Daarom is Paasfees vir die mens ook 'n pynlike krisis. Op Paasfees moet jy kies. Om in Jesus te glo, moet ons al die ander dinge loslaat waaraan ons onsself vasklem. Om in Jesus te glo is om los te kom van die bande van die wêreld. Wie nog homself voorop stel, het die opstanding van Jesus nie nodig nie. Maar kyk, Hy staan voor jou en sê: “wie in My glo”. Kies met wie jy Paasfees wil vier, met wie jy wil leef en sterf: met jouself en die wêreld, of met Jesus? Hy vra alles of niks. “Ek is die Weg”. Dan kan ons nie tegelykertyd 'n ander weg loop nie.

“Wie in My glo....”. Dit is nie net 'n voorwaarde nie, maar ook 'n ontsaglike uitnodiging. Jy mág in Hom glo. Hy nooi jou uit, Hy dríng jou om in Hom te glo. Watter heerlike Evangelie vir “dooie” mense! “Wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.

Ja waarlik, wie dít doen, wie só met sy laaste en diepste nood, met sy ontsaglike dood, na Hom kom en in Hom glo, hulle sal lewe! Want die Here het opgestaan, nou begin daar 'n nuwe lewe, 'n lewe deur Sy dood voorsien, 'n lewe in Sy heerlikheid!

Uit: En zij begonnen feest te vieren deur ds Gabe van Duinen (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css