Die Weg

 

Paasfees - opstanding en lewe (1)

“Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” - Johannes 11:25 (53-vertaling).

Hoe wonderlik moes Jesus se woorde geklink het in die huis van Martha en Maria, waar die dood met sy smart binnegedring het: “Ek is die opstanding en die lewe!” Maar helaas .... dit is woorde, groot woorde. En wat het treurendes aan woorde? Die Jode wat gekom het om oor die dooie Lasarus te treur, sou, toe hulle dit hoor, sekerlik veroordelend opgekyk het. En uit Martha se woorde van “ek weet” kry 'n mens ook nie die indruk dat sy baie getroos was daardeur nie. Wat het 'n mens tog aan woorde? Wat daarna gebeur het, weet ons.

En by Paasfees gaan dit ook nie om woorde nie. Paasfees is nie die fees van woorde nie, maar van dade; nie 'n fees oor dít wat Jesus gesê het nie, maar wat Jesus doen. Want dit het nie by woorde gebly nie. Hoe ontsagwekkend was sy woorde aan 'n deur verdriet gebroke vrou by die graf van 'n dooie Lasarus: “Ek is die opstanding en die lewe”!  En Jesus kan dit doen, omdat Hy ook die Man van groot dade is. En later, op Paasmôre, het Hy sy groot woorde met groot dade beseël. Dit is wat Paasfees is: wat Hy gesê het, het Hy volbring: “Die Here het waarlik opgestaan”.

Ons het op Paasfees nie met Bybeltekste te doen nie, maar met lewenswerklikhede. Sekerlik, die dooie Lasarus in sy graf, die diep bedroefde Martha wat daar voor Jesus staan, die gebroke, wanhopige Maria wat nie uit haar huis wil kom nie – dit is die klipharde werklikhede. Dit is dinge waarmee ons elke dag in aanraking kom. “Dit is verby” sê ons. Ja, die wekker is afgeloop. Wie sal dit ooit weer opwen?  “Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?” En dit is nou die uitnemende van Paasfees: Jesus laat die grafsteen nie net lê nie. Teen die harde werklikheid van die dood stel Jesus die rots-harde werklikheid van Sy lewe. Op die Paasfees word die woorde wat Jesus vir Martha gesê het, met magtige werklikheid vervul; kom Sy woord tot 'n stralende daad. Hy voeg die daad by die woord: Die Here het werklik opgestaan!

Paasfees is 'n voldonge gebeurtenis in hierdie doodse wêreld. Dit is 'n historiese feit, 'n ontsagwekkende, doodsvernietigende en lewendmakende daad. Jesus leef! Die Here het waarlik opgestaan.

.... die opstanding en die lewe

“Opstanding en lewe” - dit is soos 'n magtige dreuning wanneer hierdie woorde uit ons teks opklink. Dit is die klimaks van Paasfees. Sonder die “opstanding en die lewe” was daar geen inhoud aan Paasfees nie; sou die dooies nie kon lewe en die lewendes geen hoop gehad het nie.

Opstanding en lewe” - ja, want in die eerste plek is dit Hyself wat opstaan en leef. Die opstanding en die lewe begin by Hom. Hy wat die verskriklike dood gesterf het, en Wie se liggaam die vroue met hul balsem wou bewaar – Hy verrys. Hy ruk homself uit die grimmige bande van die dood. Daar staan Hy op hierdie heldere Paasmôre en sê dít wat geen mens nog ooit self kon sê nie: “Ek was dood en kyk Ek lewe.

Maar “opstanding en lewe” is meer as dit. As dit nie so was nie, sou Paasmôre vir hierdie wêreld nie die goue môre gewees het nie. Dan sou ons in ons doodsnag bly sug het: “wagter, hoe vêr is die dag?” Dan was Paasmôre slegs die môre van Jesus en nie van ons nie. Jesus se graf sou dan oop wees, maar ons graf sou dig toe bly. Dit is die groot heerlikheid wat in die woorde ”opstanding” en “lewe” lê. Jesus sê nie: “Ek het opgestaan” en “Ek leef” nie. Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe”. En daarmee maak Hy sy opstanding en lewe die basis en begin van óns opstanding en lewe. Sy opstanding is nie net maar die opstanding uit sy eie dood nie, maar uit dié Dood. Hy breek nie net die stene van sy eie graf oop nie, maar ook dié van alle grafte. Ja hy verbreek selfs die dood. “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Christus het die poort van die dood na die lewe oopgemaak. Hy het eerste daardeur gegaan, en Hy het dit oopgelos vir almal wat Hom volg. Deur die krag van Sy opstanding word ons tot die lewe opgewek.

So is dus die “opstanding en leweoneindig meer as net 'n historiese feit wat eenmaal gebeur het. Christus het op Paasmôre vir ons almal in hierdie doodswêreld “opstanding en lewe” gebring. Paasfees is opstandingskrag, ook nou. Na Paasmôre is daar opstanding en lewe in hierdie wêreld. Die wêreld is nie meer donker en geslote nie. Dit is Paasfees! Christus het in die donker tuin van Josef die Paaslig aangesteek. Daardié lig skyn nog. Dit skyn ook vandag as jy hierdie lees. Want Hy is die opstanding en die lewe.

(word vervolg)

Uit: En zij begonnen feest te vieren deur ds Gabe van Duinen (effens verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css