Die Weg

 

Wat beteken jou geloof vir jou (3)

Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.” - Johannes 3:36.

In die vorige boodskap is gesê dat die eintlike bate van die geloof is dat ons nóu reeds regverdig voor God gestel is en dat ons erfgename is van die ewige lewe. Dit is beslis iets om vreugdevol oor te sing. As kinders van God is daar soveel waaroor ons bly kan wees, maar hoe dikwels loop ons nie met lang gesigte rond nie! Dit is omdat ons nie uit ons rykdom leef nie, en nie nadink oor ons onverganklike besittings nie. Ja, daar is die aardse besittings wat van ons weggeneem kan word: ons gesondheid, ons vryheid, ons dierbares en selfs ons lewe. Daar is egter één ding wat nooit van ons weggeneem kan word nie: dat ons in Christus regverdig voor God gestel is en erfgename van die ewige lewe is.

Om regverdig voor God te wees is teenoorgesteld aan om verdoemlik voor God te wees. Van nature geld laasgenoemde vir alle mense. Deur ons sonde het ons die ewige dood verdien. Van nature is daar vir ons niks anders as om in die buitenste duisternis uitgewerp te word, waar die wurm nie sterf en die vuur nie geblus word nie. (vgl Mark 9:44;53-vertaling).  In werklikheid sit ons almal in 'n troostelose gevangenis, wagtend op die vonnis wat oor ons uitgespreek sal word. Maar dan gaan die seldeur oop, en word vir jou gesê: jy is vrygespreek; jy kan in volkome vryheid die lig tegemoet stap – die ewige lig.

Dit is die boodskap van die evangelie: jy, arme gevangene van Satan, jy is vry! Vir altyd vry, as jy glo in Jesus Christus wat gestuur is om gevangenes die vryheid te gee. In Christus is ek voor God regverdig. Buiten Christus is almal verdoemlik, selfs ook die vriendelikste en mees opregte mens. Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. En deur Hom is ons erfgename van die ewige lewe; dit is, die ewige saligheid. Ons is nou erfgename van 'n onverstoorbare vreugde. 'n Erfgenaam hoef niks te doen om sy erfenis te verdien nie, hy kry dit net. Net so kry ons die ewige lewe uit genade.

Van die ongelowige staan daar geskrywe dat die toorn van God op hom lê en wag as 'n “skat” in die dag van oordeel (Rom 2:5; 53-vertaling). Maar op ons wag die vreugde van God. En dit is nie tevergeefs nie, want dié wat in Christus glo, is wettige erfgename. Nou kan ons begryp wat Christus vir die mense in Smirna sê: “julle is ryk”. In aardse terme was hulle arm en beroof, maar hulle was erfgename van God en mede-erfgename van Christus. En ons ook!

Lig daarom die hoofde op kinders van God! Christus sê: “Ek weet julle is arm en lei verdrukking, Ek sien julle nood en julle trane, maar julle is ryk!” En hoe arm is húlle wat geen deel daaraan het nie! Wil jy dalk ruil?

Uit: Zondags Kinderen deur ds H Veldkamp (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css