Die Weg

 

God bly getrou in alle omstandighede (1)

Die geskiedenis van Ester speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes (Ahasveros) (485-464 v.C.). Hy was die opvolger van Darius. Xerxes was die vader van Artaxerxes (Artasasta) wat regeer het in die tyd van Esra en Nehemia. Xerxes het sy heerskappy uitgebrei tot in Egipte en het nou selfs beplan om 'n groot veldtog teen Griekeland te onderneem. Waarskynlik het die feesmaal waarvan ons in Ester 1 lees, hiermee verband gehou.

Ester en haar familie was Jode wat aan die einde van die ballingskap nie saam met Josua en Serrubbabel na hul land teruggekeer het nie. Hulle het in Persië agtergebly. So het Ester in die koninklike harem beland wat haar natuurlik teenoor die Joodse wette te staan gebring het. Mordegai het haar beveel om nie haar Joodse afkoms bekend te maak nie (Ester 2:10). Hulle het dus 'n ander houding ingeneem as die heldhaftige Daniël (Dan 1).

Tog het dit hierdie mense nie heeltemal aan durf en geloof ontbreek nie. Mordegai se weiering om voor Hamman te buig, getuig hiervan (Ester 3:2). Ons sien dit ook in die woorde van Hamman aan die koning: “Daar is een volk wat verstrooid en afgesonder is tussen die volke en al die provinsies van u koninkryk, en hulle wette is anders as die van enige volk; ook hou hulle die wette van die koning nie” (Ester 3:8).

Op aanbeveling van Hamman vaardig Xerxes 'n wet uit waarvolgens die Jode uitgeroei moes word. Dit geld as 'n onherroeplike wet van Meders en Perse (Ester 8:8). Maar God regeer. Hy laat die beste menslike beplanning wat daarop uit was om sy verbondsvolk uit te roei, misluk. Selfs as dit lyk asof die ondergang van sy volk onafwendbaar is, red Hy hulle. Hierdie is 'n soortgelyke situasie as wat Esegiël gesien het met betrekking tot die volk in die Babiloniese ballingskap (Eseg 37). Die Here red sy volk hier uit die hart van die dood.

Die Here verlos sy volk, maar dit vra tegelykertyd ook groot inspanning en volharding van húlle kant. Ons het dit vroeër al gesien in die geskiedenis van die teruggekeerdes onder Josua en Serrubbabel, en onder Esra en Nehemia. Dit word hier ook weer duidelik: die Here gee aan die  verbondsvolk toestemming om hulleself te verdedig. En hulle word gered deurdat hulle dit dan inderdaad ook kragdadiglik doen.

By die geskiedenis van Ester vind daar 'n groot omkering van rolle plaas: in plaas dat die Jode uitgeroei word, gebeur dit met hulle vyande (Ester 9:1). Ons vind dit op verskeie plekke in die Ou Testament. Kyk ook na die profetiese uitsprake oor die eindtyd soos dié van Sagaria (Sag 14). Daarvolgens sal God se volk prakties deur die dood ingesluit word, maar wat dan op 'n wonderbaarlike redding en oorwinning vir sy volk sal uitloop. Die Here red sy volk as 't ware uit die kloue van die ondergang en die dood.

(word vervolg)

Uit: Die Here Regeer deur Prof JL Helberg (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css