Die Weg

 

Waar volkome blydskap lê

“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer....  Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie...  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.... Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. - Johannes 15:1-11 (53-vertaling).

Om 'n elektriese koord by 'n boomstomp in te druk, sal net so min resultate hê as om 'n druiwetakkie by 'n kragprop in te druk. Die gloeilamp sal nie brand nie en die druiwestokkie sal nie groei nie.

Om te beweer dat jy 'n kind van die Here is en jy het nie intieme, kontak met Hom wat Homself die ware wingerdstok noem nie, is net so onwaar as om te sê dat 'n druiwetakkie wat los tussen die blare van 'n wingerdstok lê, vrugte dra.

Die Here Jesus gebruik die beeld van hierdie “Ek is” -uitspraak om aan ons te toon dat geen geestelike lewe, groei of vrugdra moontlik is sonder 'n noue verbintenis en gereelde kontak met Hom nie. Deur sy Woord gee Hy aan ons die moontlikheid tot gereelde kontak en tot beter kennis van Hom en sy wil.

Die noue kontak met die Ware Wingerdstok gee die groeikrag, die geborgenheid, die sekuriteit, die vrugte en, soos vers 11 dit uitdruk, uiteindelik volkome blydskap.

Uit: Lig en Lewe 1985.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css