Die Weg

 

Vra eers na die wil van God

“Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop” - Spreuke 3:6.

Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas” - Spreuke 19:21.

Hoe dikwels maak ons planne en dink vooraf wat ons in bepaalde omstandighede sal sê of doen? En dan gebeur juis wat ons nie beplan het nie, óf ons woorde word verkeerd opgeneem. Ons het nou een maal nie ons lewe in ons eie hand nie. Dit berus immers by die Here of ons seën op ons handewerk sal ontvang of nie. Daarom moet ons nie iets sê of doen, óf op ons eie planne vertrou, sonder om eers te besin of dit volgens die wil van die Here is nie. Ons mag dalk net te laat agterkom dat al ons planne, woorde en dade tevergeefs was en dat ons onsself op 'n dwaalweg bevind.

Dit is eers wanneer ‘n mens die swakheid van sy eie menslike oorwegings leer ken, dat hy vrykom van die waan dat sy eie weg die enigste en regverdige weg is. Dan sal hy leer om sy hart en hande in die hand van die Here te plaas, sodat die Here hom sal lei volgens Sy wil en na Sy welbehae.

Plaas dus eers jou hart en jou hande in die hand van die Here en vertrou op Hom. Dan sal jou planne, woorde en dade wees volgens Sy wil. As jy op die Here vertrou en vra na Sy wil, sal Hy jou lei volgens Sy besluit sodat jy nie teleurgestel sal word en verneder voor die wêreld sal staan nie. As dit jou uitgangspunt is, sal jy seën op jou voornemens en planne ontvang, want wat die Here besluit, bly ewig vas (Spreuke 19:21).

CH von Bogatzky (1718)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css