Die Weg

 

Christus leef in my

Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.” - Johannes 17:26.

Hierdie woorde waarmee ons Here sy hoëpriesterlike gebed afsluit, wys dat, behalwe dat die liefde van God in die harte van sy mense is, Christus self ook in sy mense woon. En dit is hierdie inwoning wat 'n nuwe karakter gee aan die lewe van die Christen.

Dit verklaar byvoorbeeld sulke uitdrukkings as dié van Paulus: “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal. 2:20). Hy het sy eie lewe ondergeskik gestel aan dié van Christus. Dit verduidelik ook die woorde van Filippense 1:21: “om te lewe, is vir my Christus”, wat kan beteken: “Die som van my lewe, die geheim van my lewe, die bron van my lewe, die lewe van my lewe, is Christus self.” En ons lees van Johannes wat sê: “Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.” (1 Joh 4:4). Dit is dieselfde as om te sê: “Christus wat in julle is, is groter as Satan wat in die wêreld is.” Paulus praat ook weer van Christus as die lewe in ons as hy sê: “Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel” (Kol 3:4). Dit verduidelik ook die wonderlike vers: “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” (2 Kor 4:10; 53-vertaling), wat in die volgende vers herhaal word met 'n effense en tog 'n belangrike verandering, “sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word” (2 Kor 4:11; 53 vertaling).  Dit is dan nie bloot 'n afdruk van die lewe van Christus in jou nie, maar sy eie persoonlike lewe wat Homself manifesteer (tot volle uitdrukking kom) in jou lewe soos die Vader se lewe gemanifesteer is in Christus, soos die lewe van die wingerdstok gemanifesteer word in die lote.

J. Elder Cumming (1887)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css