Die Weg

 

Ons het 'n plek van asiel

“Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees waarheen iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, kan vlug.”  - Numeri 35:6 (83-vertaling).

“Daar sal 'n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe; dwase sal nie meer op die pad kom nie.” - Jesaja 35:8 (83-vertaling).

In die voorafgaande hoofstukke van die boek Jesaja, kondig Jesaja die oordele van God oor sy volk aan. Maar in Jesaja 35 kom daar vir die kinders van God 'n heerlike troos en bemoediging. Dit is soortgelyk aan die woorde van die Here Jesus Christus:“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe”  (Joh 14:18). “Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” (Joh 16:22).

Die kinders van God is omring deur die sonde en ellende van hierdie wêreld, maar die silwer draad van God se liefde is altyd daar om ons staande te hou en uit te lei.

Sê vir dié wat moed verloor het: 'Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!'” (Jes 35:4).

Watter heerlike vooruitsig! Al ly ons verdrukking in die wêreld, moet ons nie bang wees nie. Ons het die onsigbare Asielstad, Jesus Christus, waarheen ons ons toevlug in die geloof kan neem.

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die HERE: 'U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.'” (Ps 91:1-2).

Gebaseer op 'n dagstukkie in Lig en Lewe 1959.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css