Die Weg

 

Oproep om wakker te bly

“Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees.” - 1 Tessalonisense 5:6.

Die ongelowige en goddelose wêreld steur hom nie aan die ernstige en dringende waarskuwing in verband met die wederkoms van Christus nie. Jesus Christus is vir die meeste mense van geen betekenis nie en daarom ook nie die gedagte aan sy wederkoms nie. Hierdie onverskilligheid word vir ons beskrywe as 'n slaap - die ongelowige se volkome oorgawe aan die genietinge van die wêreld en sy gerustheid met betrekking tot die dag van die wederkoms van Christus.

Daarteenoor kry die gelowige die opdrag om te waak en nugter te wees. Dit beteken dat ons op ons hoede moet wees teen die sonde, sodat ons nie daardeur verstrik word nie. “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie.” (Luk 21:34). Waaksaamheid en 'n sobere, matige lewenswyse moet dus die reël van die gelowige wees.

Die wêreld bied ons so baie om ons Christelike gewete te verdof en ons te beweeg om met die sonde 'n ooreenkoms te tref. Daardeur word ons rustig aan die slaap gesus. Maar die Gees herinner ons aan die wederkoms van Christus. Hy roep ons op om die die Satan te weerstaan en die weg van Christus te volg. 

Uit: Lig en Lewe 1959.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css