Die Weg

 

Selfs in Anatot

“Jy mag nie in die Naam van die Here as profeet optree nie, want dan sal ons jou doodmaak” - Jeremia 11:21 (83-vertaling).

Een van die ergste soorte eensaamheid is geestelike eensaamheid. Jeremia het dit in sy eie tuisdorp, Anatot (Jer 1:1), ervaar. Niemand wou na sy boodskap luister nie. Die dorpsmense - sy bure, vriende en selfs sy eie familie - het hom gehaat. Hy was verpletter toe hy besef het dat die mense naaste aan hom nie van plan was om koning Josia se hervormings te volg en die Here te dien nie.

Wat het Jeremia gedoen? Eerstens het hy teenoor God gekla: “Ek sal my saak vir U stel ...” (Jer 12:1). Het jy geweet dat ons dit maar mag doen? Ons kan vir God sê hoe dit voel om geestelik alleen te wees tussen die mense vir wie ons die meeste omgee. Hy verstaan wanneer ons uitvaar teen die slegte mense wat voorspoed beleef en onbesorg lewe. (Jer 12:1-4).

Nadat hy sy klag gelê het, het Jeremia na God geluister, maar dit was nie maklik nie. Jeremia sou nog baie veragting en wraak beleef (vgl. Jer 12:5-6), maar God het belowe: “Ek sal ... jou weer in my diens neem ... jy (sal) weer namens My kan praat ... Ek sal jou help en jou red“(Jer 15:19-20).

Eensaamheid kan tot verdieping in ons verhouding met God lei.

Wanneer jy besluit het om Hom te volg, sal daar 'n tyd kom dat jy bereid moet wees om Hom op jou eie te volg, selfs al gaan niemand anders saam met jou nie. Mag ons leer dat eensaamheid soms die prys is wat ons vir ons geloof moet betaal; selfs in “Anatot”, ons tuisdorp.

Uit: "Eenjaar-Oordenkings" deur Jill Briscoe. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css