Die Weg

 

Die Beste Rus

Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” - Markus 4:38 (53-vertaling).

Die spanning en druk wat deur die storms van die lewe veroorsaak word, het die aaklige vermoë om ons snags wakker te hou. Dit kan ons soms selfs bedags daarvan weerhou om effektief op te tree. Hoe kan ek rus terwyl my “skuit” deur 'n stormsterkte wind rondgeruk word? Tog het Jesus dit reggekry om onder sulke omstandighede te slááp. Toe 'n storm losbars waar Hy aan boord van 'n skuit was, het Jesus op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Jesus het geweet wat dit beteken om in die middel van 'n storm te slaap. Hy het geweet Hy is veilig in die Vader se arms.

Al word die druk nie weggeneem nie, kan God vir ons 'n ingesteldheid gee wat maak dat ons net so rustig onder die druk is as daarsonder. Klink dit onmoontlik? Nie vir God nie. Hierdie soort rus is 'n losmaak van verstandelike en geestelike uitputting, maar nie van die las wat ons moet dra nie. Ons kan die stormsterkte winde hanteer wat om ons huil; ons kan ons klein “skuitjie” toelaat om geruk te word; ons kan hard werk sonder om onsself uit te brand. Dit is rus, nie ontspanning nie. Dis 'n rus wat selfbewustheid en vrees oorwin. Jesus het die verskrikte dissipels gevra: ... “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” (Mark. 4:40). Net soos wat Jesus tydens die storm in sy Vader gerus het, het Hy van sy vriende verwag om in Hom te rus. Dit is die beste rus.

Uit: "Eenjaar-Oordenkings" deur Jill Briscoe. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM); www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css