Die Weg

 

Lewe, die moeite werd om te leef

“In Hom was daar lewe, en die lewe het gedien as die lig vir die mense.” - Johannes 1:4.

Ek skryf nie aan julle om 'n saak te bemark nie”, sou Johannes kon sê. “O nee, ek wil julle vertel van 'n Persoon wat die lewe die moeite werd maak om te leef. Hy is self lewe en Hy bring lewe.”

Wanneer Jesus as die lewe beskryf word, fokus Johannes op die Seun van God se besondere verhouding met sy Vader. Jesus leef omdat Hy en die Vader een is (Joh 10:30). En toe Hy mens geword het op aarde, het Jesus die lewende voorbeeld van lewe geword. Hy het die intieme verhouding met sy Vader sigbaar kom leef.

Tereg kan ons vra wat Jesus, die lewe, vir ons inhou. Die antwoord lê daarin dat Hy elke mens wat Hom aanvaar in 'n nuwe raamwerk van lewe plaas: 'n Geestelike lewe. Volgens algemene Bybelse verwagting breek die ware geestelike lewe eers aan in die toekomstige ewige lewe. Johannes plaas die verwagting egter nou in 'n nuwe perspektief. Ons hoef nie te wag tot ná die opstanding om die ewige geestelike lewe te ontvang nie, maar kan dit nou reeds ervaar. Die toekoms het hede geword.

Jesus herstel nie net die verhouding tussen God en mens nie, maar laat ons in hierdie lewe reeds deel in die volledige lewe in 'n verhouding met God. Ons mag en moet nou reeds feesvier omdat ons lewe. Volledig, maar nog nie volmaak nie!

Asemhaal is net nie genoeg nie! Om geestelik asem te haal uit die dieptes van ons nuwe verhouding met God, wat Jesus aan ons skenk, is ware geestelike lewe. Vir die godsdienstige Jood was elke oomblik van sy /haar daaglikse bestaan te verstaan voor die aangesig van God. 'n Opregte en innige verhouding met Jesus, die lewe, maak vir die Christen die lewe die moeite werd om te leef.

Gebed: Here, help my om nie nette bestaan nie, maar om regtig te lewe!

Uit: Wie My volg .... deur Jan du Rand. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css