Die Weg

 

Duisternis, jou dae is getel!

“Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.” - Johannes 1:5.

Johannes gebruik die aller interessantste beelde. Jy moet ook meer as een keer daarna kyk om die betekenis regtig te verstaan. In hierdie geval praat hy oor lig en duisternis.

Wanneer Jesus jou lewe word, gaan daar vir jou lig op. Hy het die duisternis van ongeloof en rebellerende ontkenning van God kom oorweldig. Die mensewêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Die ligstrale van God se onverdiende goedheid het die duisternis oorweldig. Tot siens, duisternis! Jesus self is die lig vir die wêreld (Joh 8:12; 9:5) en sy lig is aansteeklik. Deur sy woorde het sy navolgers ook lig vir 'n donker wêreld geword (Matt 5:14). Soos ons die paadjie van die wêreld loop, plant ons liggies van hoop.

Wanneer daar 'n kragonderbreking is, neem die duisternis oor. As die krag van God in 'n mens se lewe ontbreek, word dit donker. En in so 'n donkerte kan 'n mens eintlik net knoei. Ek moes onlangs laataand 'n plaashek oopsluit. Toe my motor se hoofligte op die hek en slot geval het, was die oopsluit maklik. Nadat ek deurgery het, moes ek toe ook die hek weer gaan toesluit. En wat 'n gemors. Dis donker en ek voel-voel sonder om te vorder! Dit kan ook geestelik toegepas word. Die duisternis is altyd daarop uit om die lig uit te doof. Die omgekeerde geld natuurlik ook: die lig verdryf die duisternis van sonde en verlorenheid.

Die hemelse lig, Jesus, het die duisternis verlig, en menslike hardkoppigheid, ongeloof en selfsug kan dit nie weer uitdoof nie. Die kragkabels vanaf Golgota voorsien lig tot by die verste en kleinste uithoek van die aarde. Geestelike krag vanaf die kragstasie laat elke Christen se gloeilamp helder skyn. En dis geheel en al gratis, want die groot insetprys is vooraf vereffen. Daarom is ons kinders van die lig (Ef 5:8) en kan en mag ongeloof nooit weer die oorhand kry nie.

Gebed: Hemelse Vader, vergeef my dat ek soms nog wegkruip agter die donkerte van my eie droogmaak. Help my om Jesus, die Lig, te leef. Amen.

Uit: Wie My volg .... deur Jan du Rand. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css