Die Weg

 

Om voorspoedig te wees

Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” - Psalm 1:3 (83-vertaling).

Wat beteken dit om voorspoedig te wees? Vir die miljoenêr is dit heel waarskynlik om sy skatte te verdubbel. Vir die sakeman om sy bedryf uit te brei. Vir ander om 'n mooi huis en aardse besittings te hê...... Dan word dit ook beskou as sinoniem met welstand. In Engels is dit “prosperity”. Dit is dan 'n toestand waarin jy baie geld het en waarin alles goed gaan. Dit is die wêreld se definisie van voorspoed.

Maar dit is nie waarvan Psalm 1 praat nie. Hier hang voorspoed saam met die sin van die lewe. Gaan dink maar eers na oor waarom en waarvoor ons lewe! Dan kan ons vra waar kry ons die krag vandaan om daardie lewensroeping ten uitvoer te bring. Eers dán kan ons sê wat hierdie voorspoed beteken.

In Psalm 1 word voorspoed gedefinieer aan die hoeveelheid vrug wat ons dra vir God se Koninkryk. Die krag daartoe put ons uit die fontein van die lewe: uit God se Woord en Gees. Dán kom die seën van God op ons lewe ter sprake. Die seën om in alles standvastig te kan bly staan, hoe groot die nood en stryd ook al mag wees. Die seën om staande te kan bly in die tye van nood en stryd; teen alle aanslae van die wêreld. Dit is ook die seën om jou eindbestemming ongeskonde te bereik, hoe moeilik jou weg ook al mag wees. Jy sal dié voorspoed kan vier op die laaste dag wanneer jy die erekroon van oorwinning sal ontvang. “En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.” (1 Pet 5:4).

Hier kom Jeremia 17:8 tot sy reg: “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” En ook Jesaja 58:11: “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” 

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css