Die Weg

 

'n Persoonlike getuienis

Professor Hans Mallau (1930-2006) was 'n bekende Duitse teoloog en akademikus, en is deur sy kollega's bestempel as 'n “'n getroue dienskneg van Jesus Christus”. Hy het onder andere in 1975 'n boek geskryf oor gebedsgenesing met die titel: “Wenn du glauben könntest – Von der Heilung durch das Gebet des Glaubens.”  In Afrikaans sal 'n mens dit direk vertaal met: “As jy kan glo – van die genesing deur die gebed van die geloof”. Onderstaande is 'n persoonlike getuienis oor sy eie siekte soos hy dit in dié boek beskryf:

“Terwyl ek hier skryf is ek al vir 'n geruime tyd 'n liggaamlik gestremde man. Dit is nou al vyf jaar gelede dat my gesig aan die regterkant verlam geraak het [die mediese term is facialis parese] en ek 'n hele paar weke in die hospitaal moes deurbring. Die verwagte genesing of verbetering het weggebly. Inteendeel, na 'n tyd  het 'n onuitspreeklik pynlike toestand ontwikkel wat Trigeminusneuralgie genoem word. [Dit kom weens die beskadiging van die gesigsenuwee]. Die pyn was ondraaglik; die dokters het geen raad gehad nie en geen pynstillers het gewerk nie. In my nood het ek die ouderlinge in my gemeente laat kom om met my te handel volgens Jakobus 5. Ek het dit gedoen in die sekerheid van: 'Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking' (Jak 5:16). Hoe en op welke manier en in watter mate die genesing sou geskied, sou ek aan die Here oorlaat. Ek het alles aan Hom toevertrou, want ek het reeds baie saam met Hom deurleef.

En hoe het Hy my geantwoord? Hy het die pyn van my af weggeneem. Dit was soos 'n verlossing. Maar die gesigsverlamming het gebly met sy ontstellende uitwerking op my regteroog en die regterkant van my mond. Waarom dit so moes bly, dít weet ek nie. Hý weet dit. Maar dat Hy my ook in hierdie toestand in sy diens wou gebruik, en my ook in hierdie diens duidelik geseën het, troos my en maak my gelukkig. Ek glo dat ek 2 Kor 12:9 nou beter verstaan, en daarvoor is ek baie dankbaar.”

--

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css