Die Weg

 

Die doel en die effek van lyding

“Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand. Die mense is deur 'n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.” - Openbaring 16:8-9.

Die mooiste kortverhaal vind ons in die Bybel. U weet seker waarna ek verwys. Dit is die verhaal van die verlore seun in Lukas 15:11-24. Dit is die verhaal van 'n man wat deur lyding heen tot redding gekom het.

Toe dit met hom voorspoedig gegaan het, toe hy nog genoeg gehad het om saam met sy vriende te verkwis, toe het hy sy vader se huis vergeet.

Maar so sou dit nie vir altyd bly nie. Sy goed het opgeraak, en by dit alles het daar 'n swaar hongersnood in daardie land gekom. Hy het hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg, en dié het hom in die veld gestuur om varke op te pas. Hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, maar niemand het dit vir hom gegee nie.

Maar, toe hy swaar gekry en honger gely het, het hy aan sy vader se huis gedink, opgestaan en teruggegaan. Deur lyding heen het hy sy pad teruggevind

Hoe baie mense het dit nie al uitgevind nie: deur lyding heen is hulle gedwing om op te kyk.

Onvergeetlik bly die woorde in my herinnering toe ek op 'n keer 'n brief gelees het van iemand uit 'n gevangenis. Hy skryf: “Ek dank God vir die gevangenis, want hier het ek my God gevind.

So is 'n siekbed, 'n motorongeluk, 'n finansiële krisis of een of ander groot teleurstelling al in die lewe van baie mense deur God gebruik om hulle tot inkeer te bring.

Maar ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar. Baie mense het al onder sulke omstandighede só verhard geraak dat hulle teen God in opstand gekom en Hom verwerp het.

So, byvoorbeeld, het 'n man, nadat hy tydens 'n groot droogte sy boerdery moes prysgee, sy plaas verlaat, maar nie voordat hy 'n groot bord op die plaashek gesit het met die woorde daarop geskrywe: “Daar is geen God nie. En as daar dalk 'n God is, slaap Hy.” Deur lyding heen het hy tot verharding gekom. (Vgl Spr 3:11)

Ons lees dan ook in Openbaring 8 tot 16 van sekere plae wat deur die toedoen van God die aarde tref; en dan staan daar geskrywe: “Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (Op 16:10,11).

Die punt is dus: húlle wat aan God behoort, word deur pyn en lyding gelouter en nader aan God gebring. Maar hulle wat nie aan God behoort nie, word deur pyn en lyding verhard en verder van God af weggestoot.

Dit is dus goed om te let op die Woord wat sê: 'Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie?' (Heb 12:5-7) Onthou, wie die tug van die Here verdra, word deur Hom soos sy eie kind hanteer.

Uit: Gelouter deur Lyding van Willie Marais (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers )
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css