Die Weg

 

God is naby en vér van dié wat ly

“Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood?”- Psalm 10:1.

“Moenie by jouself sê: 'Wie sal na die hemel toe opklim?' nie, dit is, om Christus af te bring, of: 'Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?' nie, dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê: 'Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.'” - Romeine 10:6-8.

In Deuteronomium 4:7 vra Moses aan Israel in die woestyn: “Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?"

God is binne hoorbare afstand van elkeen wat Hom aanroep. God is alomteenwoordig (Num 14:21); in Hom leef ons, beweeg ons en is ons. (Vgl Hand 17:28).

Daarom kon Paulus skryf: “Moenie by jouself sê: Wie sal na die hemel toe opklim? nie, dit is, om Christus af te bring, of: Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal? nie, dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê: Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (Rom 10:6-8).

God is binne ons bereik. Hy is nader aan ons as ons eie asem.

Maar wat die afgode betref kon Elia die Baälpriesters spot en sê: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis .. “ (1 Kon 18:27). Die afgode is dood en stom en ver; daar is geen gees of lewe in hulle nie. (Vgl Hab 2:18,19).

Maar die Here ons God is 'n God wat naby is, so dikwels as ons Hom roep.

Nogtans is dit nie wat ons altyd ondervind nie. Daarom kla die Psalmdigter by geleentheid en sê: “Waarom staan U sover weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood?” (Ps 10: 1). In sulke tye is daar oënskynlik geen verskil tussen die ware God en die afgode nie. In beide gevalle kom daar geen antwoord nie.

Die Kanaänitiese vrou van Matteus 15 is hiervan 'n sprekende voorbeeld. In haar diepste verleentheid oor die nood van haar dogter het sy tot Jesus geroep en gesê: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.” (Matt 15:22). Dan staan daar geskrywe: “Maar Hy het haar niks geantwoord nie.” (Matt 15:23). Jesus het gemaak asof Hy haar nie hoor nie, asof Hy nie in haar belangstel nie, asof Hy nie omgee nie.

Tog help Hy haar 'n bietjie later nadat sy nie afgeskud kon word nie. (Matt 15:22-28).

Hierdie gebeurtenis leer vir ons 'n belangrike waarheid. Ons moenie, as die Here ons nie dadelik verhoor nie, dink dat Hy ons nie gehoor het nie. Daar staan geskrywe: “Wag op die Here” (Ps 130:7).

Dit behaag God dikwels om ons te laat wag. Daar lê 'n rykdom opgesluit in die hele proses van wag. Van nature is ons haastig en ongeduldig; selfs teenoor God ongeduldig. Dan is God vir ons nie naby nie, maar vér weg as ons Hom soek.

Tog weet ons dat God nie regtig ver weg is nie. Toe die dissipels in 'n storm was, het Jesus in die vierde nagwaak gekom, al wandelende op die meer. Hy het eers gekom om te help toe die nood op sy hoogste was, al het Hy hulle deurentyd van naby dopgehou (Matt 14:22-25). Dit is die troos vir elkeen wat ly. God weet hoeveel ons kan verduur. As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef (Ps 46:2). Dit mag ons glo.

Uit: Gelouter deur Lyding van Willie Marais (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers )
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css