Die Weg

 

Om geestelik honger te wees

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” - Mattheus 5:6 (53-vertaling).

Die woorde “honger en dors” gee vir ons 'n betekenis van ongenoegsaamheid, 'n tekort in ons lewens. Ons weet dat Christus vir ons vrede beloof het, en vrede is 'n gevoel van kalmte en gerustheid. En waar is daar rus en vrede as 'n mens honger en dors is? Maar as ons 'n bietjie nadink oor die konteks van Jesus Christus se woorde, verstaan ons dat geestelike honger en dors deel moet wees van die Christen se lewe. Dit is net mense wat liggaamlik gesond is, wat honger kan word. So is dit ook met mense wat geestelik gesond is. Iemand wat tevrede is met wat hy bereik het, met sy verhouding tot ander mense, sy gehoorsaamheid aan God en sy gemeenskap en toewyding aan Christus, hou op met groei.

Daar is baie siekes wat van verhongering sterf te midde van 'n oorvloed aan kos, omdat hulle net eenvoudig nie lus het om te eet nie. Net so is daar baie belydende Christene wat hulle siele laat gebrek ly te midde van oorvloed van geestelike voedsel, omdat hulle nie geestelik honger is nie. Dit is 'n gevaarteken vir geestelike dood wat kan intree. Daarom moet ons voortdurend bid dat ons gees gevoed en vernuwe kan word. As dit uit die hart kom, sal God met welgevalle sy geestelike gawes in oorvloed skenk. Dit is die rykdom van God se genade. Dit is inderdaad hierdie geestelike honger en dors wat maak dat ons nader na Christus groei om eendag aan Hom gelykvormig te kan wees. Daar is groot seën op hierdie geestelike honger en dors: dit is om met Christus versadig te word – dit bring rus en vrede.

Uit: Come ye Apart deur JR Miller (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css