Die Weg

 

Vitamines vir die gees

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” - Galasiërs 6:7-8.

“Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet” – Hosea 10:12-13 (53-vertaling).

Binne elke lewende sel is daar 'n string wat ons die DNS (Eng: DNA) noem. Dit is die kode wat bepaal hoe die sel lyk en hoe dit funksioneer. Dit is alles vervat in die term “genetika”. Sekere stowwe en straling kan hierdie DNS beskadig sodat dit verander (muteer) om kankerselle te laat vorm. In sekere gevalle kan hierdie kankerselle vinnig groei en na ander dele van die liggaam versprei, wat ons uitsaaiings noem. As 'n kanker vinnig gediagnoseer en verwyder kan word, kan die mens by wie die kanker voorkom nog 'n lang en vrugbare lewe lei. Anders is die dood onafwendbaar. Wie van ons weet nie van iemand wat aan kanker gesterf het nie!

Omdat ons almal die dag vrees dat kanker by ons gediagnoseer kan word, probeer ons om 'n gesonder lewe te lei deur dinge te vermy wat moontlik kanker kan veroorsaak. Ons neem dalk allerhande voedingsaanvullings en vitamines om seker te maak dat ons liggaamselle gesond bly. Maar nou is daar iets waaraan min van ons aandag gee. Wie het ooit daaraan gedink dat die gees ook 'n invloed op die DNS kan hê? Iets in die gees wat bepaal hoe jy in elke situasie gaan optree en wat as deel van die Epigenetika op die lange duur 'n invloed op die liggaamlike DNS kan hê? 'n Mens kan sê: “'n gesonde gees skep 'n gesonde liggaam.” Om geestelik gesond te wees verbeter dus ook ons lewenskwaliteit.

God is Gees. Hy is ook die voedingsbron van ons gees. Ons gees word juis ook gevoed deur gehoorsaamheid aan die wil en insettinge van God: al hierdie gebooie van Hom wat ons so ligtelik opsy skuif. Dit gee vir ons 'n ander aansig waarvan ons maar selde kennis neem: dit is die “voedingsaanvullings” en “vitamines” vir die menslike gees, wat dan weer 'n invloed op ons liggame het.

Ons het in vorige boodskappe gekyk na ons verhouding met God en met ons naaste. Maar die gebooie sê meer as dít. Dit vertel vir ons van ons houding tot onsself. Want glo my, wat jy aan die mense en die wêreld om jou doen, kry jy meer as sewevoudig terug, die goeie dinge en die slegte dinge. As jy liefde saai, groei die liefde binne jou en jou liggaam straal dit uit. As jy haat en afguns saai, groei die kanker van haat binne jou. Dit word 'n verterende vuur. Jou persoonlikheid verander en jy word 'n onaangename, negatiewe mens met 'n bedrukte gemoed. Jou immuniteit verlaag wat jou weer vatbaar maak vir allerhande siektes. Die geestelike kanker het in jou gees posgevat en ook die liggaam begin oorneem. Jou liggaam, wat die tuiste is vir jou gees, begin verkrummel. Uiteindelik sterf jy met 'n hart vol bitterheid teenoor God en teenoor jou naaste, en dalk teenoor jouself.

Gelukkig kan 'n mens enige tyd van die geestelike kanker ontslae raak. Dit kan uitgesny word deur Christus Jesus wat die groot Geneesheer is. Hy kan die kanker van die sonde genees en vir jou vrede gee sodat jy liefde kan saai en vreugde kan oes. Volg maar net sy aanwysings in die Boek van Genesing wat Hy vir ons gegee het. Die volledige instruksies is daarin opgeskryf vir elkeen om te volg. En dit kos niks!

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css