Die Weg

 

God roep almal na Hom toe omdat Hy alleen die Redder is

Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie.” - Jesaja 45:22.

Jesaja 40-48 word ook genoem die boek van vertroosting. Hierdie hoofstukke handel oor die oorwinning oor Babel. Die hooftema wat deurgaans hier geopenbaar word, is: “Ek is God en daar is geen ander nie.

God alleen is die ware God. In Jesaja 45:5 openbaar God homself as volg: “Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten my is daar geen God nie.” God stel die kontras om te wys dat die afgode nikswerd, dooie beelde is, mensgemaak en tot niks in staat nie. Afgode is mensgemaakte hout- of ysterbeeldjies wat nie kan red nie, nie kan hoor nie, nie kan help nie, wat niks kan doen nie. As ons op afgode vertrou, wat geld kan wees, besittings, mag, my werk of wat ook al, gaan ons teleurgesteld wees. Daar is net een ware Verbondsgod op Wie ons kan vertrou.

God roep alle mense na Hom toe. God roep hier almal op aarde na Hom toe. Kores, die heidense koning, het as gesalfde in God se diens gestaan. Deur Kores se werk lees ons ook in Jesaja 45:5-6: “Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak, al ken jy My nie. Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af tot in die weste kan weet dat daar buiten My geen God is nie; Ek is die Here, daar is geen ander nie.

God alleen sal sy kinders red. Jesaja 45:21b: “Daar is buiten My geen God nie; net Ek is 'n God wat regverdig is en red.” God openbaar Homself as 'n reddende God. God roep die hele wêreld op om in Hom te glo en voor Hom te kniel en op Hom te vertrou. God se genade is genoeg vir almal wat in Hom glo en op Hom vertrou. God se genade en redding het tot volle openbaring gekom deur Jesus Christus wat aan die kruis vir almal wat in Hom glo, se sondes betaal het.

God roep ons na Hom toe. God roep ons om met volle vertroue en toewyding op Hom alleen te vertrou by Wie daar genade en redding is. Ons behoort aan God en daarom moet ons ook as sy kinders so lewe. Eendag sal ons die volkomenheid van die hemel betree waar ons volle vrede in God se teenwoordigheid sal beleef as ons Hom alleen dien en loof.

Ds Gerrit Kruger
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css