Die Weg

 

Kinders van die Allerhoogste

“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” - 1 Johannes 3:1 (53-vertaling).

Dis of Johannes hier voor ons staan en sê: “Kyk 'n bietjie; dink tog net daaroor na; let tog op die wonder daarvan, dat ons kinders van God genoem kan word! Ons wat dood was deur die sonde en die misdade, sonder hoop en sonder God in die wêreld, op weg na 'n ewige verderf.” En nou? Kinders van God! Ongelooflik wonderlik! Uit-Godgebore kinders. Nie soos Adam uit die stof van die aarde geformeer nie, maar gebore uit God - seuns en dogters van die Hemelse Koning - prinse en prinsesse! Dus het ons 'n hoër status as engele wat geskape wesens is. Wonderlik! Ons mag nooit aan die wonder daarvan gewoond raak nie.

Ons staan by die kruis en vra: “Maar waarom Here, waarom het U dit gedoen - en teen so 'n prys?” En deur Johannes gee Hy vir ons die antwoord: “Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het dat ons kinders van God genoem kan word.” Johannes is oorweldig deur die gedagte van die liefde van God. Sy hele brief getuig daarvan. Paulus se briewe is vol daarvan. En dan natuurlik kom die eerste boodskap van die liefde van God uit Jesus se eie mond: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Ons kan dit nie verstaan nie; die breedte en lengte en diepte en hoogte daarvan oortref die kennis. Ons kan maar net neerval en aanbid.

Uit: Onnaspeurlike Rykdom deur HT de Villiers.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css