Die Weg

 

God regverdig?

Jy moet eers gou die gelykenis van Jesus in Matteus 20: 1-16 lees. Die konklusie is dat die eienaar van die wingerd kan doen wat hy wil...

God is die eienaar van alles wat Hy gemaak het. Hy kies sy kinders uit en gee aan hulle die lewe deur Jesus Christus. Dit is sy genade. Hy het baie genade! Baie! Hy kan dit gee vir wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy is die almagtige, vrymagtige, soewereine en enigste God! Daarvoor loof en prys ons (en alles wat asem het) die Here!

Daar is mense van die kant van die ongelowiges wat dink dat God onregverdig is. Dit is te verstane. Hulle insig skiet net vér tekort. Dat daar egter gelowiges is wat dink dat God onregverdig is omdat Hy vir sommige red en ander nie, gaan mens se verstand te bowe. Ek as verloste word dus “onregverdig” behandel.

Mense raak jaloers op mekaar as jy soos die wêreld na dinge kyk. In die wêreld is dit net die vinnigstes wat wen, en die eerstes kry die trofee. By God werk dinge egter ‘n bietjie anders, of soms heeltemal anders, ja selfs soos teenoorgesteldes... Daarom eindig die gelykenis met die sg. absurde: “Die wat laaste is sal eerste wees, en...

God is nie regverdig omdat Hy vir alle mense dieselfde gee of dieselfde kanse gun nie. Nee, as God in daardie opsig regverdig moes wees, sou Hy geen ander keuse gehad het as om ons almal in die helse vuur te gooi nie. Ek glo nie dit is wat jy wil hê moet gebeur nie.

God is regverdig in die sin dat Hy geen sonde het of doen nie, en dit ook nie kan aanvaar nie. Hy kan wel daarmee ‘n plan maak, want Hy is soewerein (kan doen wat Hy wil). Hy het sy Seun gegee as die plan vir die wegneem van sondes en daarom vergewe Hy om-Christus-wil telkens weer dié mens wat hom bekeer en hom voor God verootmoedig.

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css