Die Weg

 

Ons lewensweg in God se hand

U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood” - Psalm 71:20 (83-vertaling).

Die psalmdigter beskryf sy lewe vir ons, vanaf sy vroeë jare tot in sy gryse ouderdom. En dit is 'n loflied tot eer van God. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm....” (v 6), en dan weer verder: “U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag. ” (v 17-18).  Hy vertel vir ons van die hoogtes en dieptes van sy lewe, van angstigheid en hoop,  vyandskap en redding soos dit mekaar afgewissel het. Is dit nie ook maar net 'n weerspieëling van ons eie lewens met ons tye van vreugdes en verdriet nie? Wie van ons is daar wat nie ook sy eie letsels in die lewe opgedoen het nie? Ons ken almal daardie letsels wat op onbewaakte oomblikke baie pyn verskaf.

Waar lê die sin in hierdie voortdurende en uitputtende ervarings van hoogtes en dieptes, van oorwinnings en nederlae? Waarheen moet dit ons lei? Kan 'n mens dan tog praat van die “goue draad” wat deur 'n mens se lewe loop? 

Ja tog! Want dit toon aan ons dat God ons toevlug en ons beskutting is; ons hoop en vertroue wanneer alles lyk of dit om ons ineen wil stort! Maar hierdie "goue draad" is nie altyd sigbaar nie! Ons is nie altyd volkome bewus van God se liefdevolle sorg en ondersteuning nie. En die antwoord op daardie tergende vraag, “hoekom?”, vind 'n mens dalk nooit in hierdie lewe nie. Nie een van ons is vry van storms in ons lewens nie. Ons weet dat God toelaat dat daar storms in ons lewens woed, maar ons weet ook dat Hy 'n reënboog stuur na elke storm as teken van sy getrouheid: “Ek is hier! Ek was altyd by jou - en Ek bly by jou!

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2019)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css