Die Weg

 

Hoe om die toekoms tegemoet te gaan

“Die weg van die HERE is vir die opregte ‘n vesting, maar ‘n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid.” - Spreuke 10:29 (53-vertaling).

En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” - Mattheus 24:32-33 (53-vertaling).

Wysheid is om die weë van die HERE te ken, en om op sy waarskuwings te let, sodat jy toegerus kan wees vir wat kom. Nee, ons is nie bekommerd oor wat gaan gebeur nie, want ons weet dit reeds, omdat Hy dit deur sy profete aan ons vertel het. Dít is ons wegwysers. Ongelukkig ignoreer ons soms hierdie waarskuwings en loop ons 'n afgrond tegemoet. Gaan lees maar weer Jeremia 42 en 43 en die boodskap: Wanneer God se leiding nie aan ons wense voldoen nie.

Die Bybel, as die Woord van God, is vol waarskuwings. Sommige was bedoel vir die Ou Testamentiese volk van Israel. Hierdie waarskuwings is vervul. Die ander waarskuwings wat vir ons opgeteken is in Mattheus 24 en Openbaring is die werklikheid van wat nog moet kom. Dit mag erg klink vir dié wat willens en wetens 'n afgrond tegemoet wil loop, maar dien tot troos vir die uitverkorenes in Christus Jesus.

As ons na die profesieë kyk, kan ons sien hoe die wêreld stadig maar seker op pad is na 'n klimaks. Die klimaks van die eindtyd. Die tye waarin ons nou leef, het geen parallel in die menslike geskiedenis nie, en die mense kan maar net wonder wat die toekoms gaan inhou.

Vir die kinders van God is dit niks nuuts nie, want ons weet en glo dat die weë van die mens nie deur 'n blinde noodlot bepaal word nie, maar deur die versorgende en liefdevolle Hand van die Skepper. Ons vind troos in die wete dat ondanks al die rumoer in die wêreld, daar 'n wonderlike Goddelike plan is wat ten uitvoer gebring word.

So 'n geloof skep vertroue en gee hoop; dit oorwin die vrees in die harte van mense sodat ons die toekoms blymoedig tegemoet kan gaan, omdat ons weet dat God in beheer is. Dít is hierdie geloof wat sentraal in ons lewens moet staan. Omdat God met ons is, kan ons die wêreldgebeure sien in die lig van God se ewige doel en is ons toegerus vir alle toekomstige gebeurlikhede.

-dw-

(Met erkenning aan Arnold J Walker: Through the year with faith)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css