Die Weg

 

Hoe sterk is jou geloof vir die toekoms?

“Jesus sê toe vir hulle: Julle moet geloof in God hê!” - Markus 11:22.

Met die begin van elke nuwe jaar voel 'n mens om terug te kyk na die jaar wat verby is en 'n opname van jou lewe te maak. Daar kan so baie in 'n jaar gebeur, en elke jaar bring maar sy eie kwota van vreugde en verdriet.

Dit geld ook vir die nuwe jaar wat uitgestrek voor ons lê. En alhoewel mense probeer om op allerlei maniere die toekoms te voorspel, kan niemand met sekerheid sê wat die toekoms sal inhou nie. Om jou dus oor die toekoms te bekommer, is beslis nie goed vir jou gees nie. Hoeveel keer het ons ons nie oor iets bekommer wat toe nooit 'n werklikheid geword het nie! In Handelinge 20:24 sê Paulus toe die toekoms vir homself begin donker lyk het: “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het: om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (53-vertaling). En tereg het Jesus self die volgende gesê van dié dinge waaroor ons ons altyd bekommer: “Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Matt 6:32-34; 83-vertaling).

Om dus die onbekende toekoms met blymoedigheid tegemoet te gaan, is dit nodig dat jy 'n positiewe en lewendige geloof in God sal hê. Arnold J Walker stel dit so: “So 'n geloof is meer as net 'n erkenning dat 'n Ewige Wese bestaan. Dit is die vaste oortuiging dat die Lewende Christus - wat die Perfekte Openbaring van die Goddelike Skepper is – leef in die harte en lewens van almal wat Hom liefhet en Hom dien.” (Through the year with faith).

Dit bring ons ook by die besef dat ons almal 'n roeping in die koninkryk van God het. En hoe dikwels skuif ons nie hierdie roeping opsy om ons eie begeertes na te jaag nie! Maar dis wanneer ons met ons hart en siel bewus is van ons eenheid met Christus, en toegewyd is aan ons roeping, dat ons die toekoms vreesloos tegemoet kan gaan. Want ons weet en het die kalme versekering dat ons in alles die krag van Hom sal ontvang om alle probleme en gevare te kan trotseer.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css