Die Weg

 

Ons lewe is meer as onsself

Dit het nou tyd geword om die stilte te verbreek. Vir die afgelope byna vier maande was my aandag te veel verdeel en kon ek nie by Die Weg uitkom nie. Die huis waar ons nou in woon het ook baie aandag nodig gehad. Gelukkig is die meeste verbeteringe byna klaar aangebring. Die res sal maar oorstaan tot volgende jaar.

Ek het 'n paar weke baie tyd in die intensiewe sorgeenheid van die Pretoria Oos hospitaal deurgebring. Nee, nie vir myself nie, maar om 'n vriend by te staan wat besig was om sy stryd teen 'n rare vorm van kanker te verloor. Hy hét berusting gevind in die wete dat die tyd vir elkeen bepaal is, en as die Here se besluit vir jou vasstaan, geen aardse middele dit kan verander nie. Ook nie die duurste behandelings en stamseloorplantings nie! In die stille ure by sy bed het ek myself afgevra of die lyding wat 'n mens met so 'n behandeling moet deurstaan, wel die moeite werd is. Hoe lank moet 'n mens hoop op menslike ingrepe? Of moet jy maar dinge hulle gang laat gaan? Was dit nie wat die Here met jou in die vooruitsig gehad het nie? Is jou lyding die gevolg van jou weerstand teen God se wil? Is daar nie immers 'n beter ewigheid wat vir jou wag nie? Hoe lank moet jy pynlik weerstand bied teen die onvermydelike? Dis alles vrae wat deur my kop gegaan het. Dit het my weer laat dink aan die woorde van Jacqueline van der Waals wat sy enkele dae voor haar dood gedig het, en wat ek in 2016 op die webwerf gepubliseer het onder die titel: Wat die toekoms ook mag inhou.

Ten laaste kan 'n mens nie vir ander tot troos wees as jy nie self studie doen oor God en sy Woord nie. Dan kan 'n mens sommer begin by die skepping. En as jy eers daarmee begin het, kom jy agter hoe kompleks ons wêreld werklik is, en hoe kompleks hierdie “masjien” is wat ons 'n mens noem. Hoe dieper 'n mens in hierdie dinge in delf, hoe meer kom jy agter hoe min weet die mens eintlik! Dit is maar beperk tot die dinge wat hy met sy sintuie kan waarneem en waarop hy dan allerhande teorieë vestig. Die res bly maar net dikwels ongegronde filosofieë.  'n Mens kan nie anders nie as om te besef dat alles geskep is en onder die beheer staan van 'n geweldige groot intelligensie wat alles beplan en tot uitvoering laat kom. Die menslike wese, vanaf sy ontstaan, tot by sy sterwe, bly steeds 'n (ingenieurs-) wonder. Die fyn masjinerie wat 'n spermsel aandryf, en die ingewikkeldheid van die menslike brein is verbysterend. Daar is baie dinge wat nie deur die evolusie teorie verklaar kan word nie; dinge wat nie deur Darwin se “natuurlike seleksie” voortgebring kan word nie.

Ons weet nou al so baie van die menslike brein, en ons kan baie van sy werkinge met gesofistikeerde instrumente ontleed en verklaar, maar tog staan dit onder die beheer van iets groter wat nog nie fisies gedefinieer is nie, dit word die WIL genoem. Die Franse neurowetenskaplike Stanislas Dehaene sê in sy boek “Deciphering How the Brain Codes our Thoughts”, dat die brein aan al die wette van die fisika voldoen, maar dan moet hy tog erken dat al ons denke deur 'n eie wil beheer word. Is dit die grens tussen die liggaam en die gees? Ek sal volgende jaar meer hieroor sê. Dit vind aanklank by wat ons in die Bybel lees: “Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is” (Heb 13:21); “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe” (Ef 3:20-21).  “... want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Filip 2:13).

Ek sal vir die volgende twee weke weer voortgaan met die daaglikse boodskappe. Hier teen die einde van die jaar is dit vir almal nodig om bietjie gemoedsrus en vertroue tov die  toekoms te verkry, al gaan dit hoe moeilik. Nee, nie deur dit wat die wêreld vir ons aanbied nie, maar deur dít wat God van ons, sy kinders, verwag.

- dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css