Die Weg

 

As die lig deurbreek

'Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”'  - Johannes 8:12.

Hierdie woorde van die Here Jesus hou verband met die gebeure wat in verse 2 tot 11 beskryf word. Ja, Jesus ís die lig vir die wêreld. Hy is dié lig wat die gedagtes en die harte van mense binnedring om die duisternis wat daarin heers, te verdryf. En hoe nodig het ons nie hierdie lig nie!

Die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat tog só oortuig was van hulle eie regverdigheid en verhewenheid, wou die lewenslig van 'n vrou wat op egbreuk betrap is, van haar ontneem. Kortom, hulle wou haar dood sien. Maar dan maak die Here hulle oë oop sodat hulle hul eíe skuld kan raaksien. Want van buite was hulle rein en wit soos witgepleisterde grafte, maar van binne vol doodsbeendere (Mattheus 23:27). Hy laat hulle sien hoe hulleself van binne lyk. Daarom kon haar beskuldigers niks anders doen as om hulle koppe te laat hang en van haar weg te loop nie. Of hierdie skrifgeleerdes en Fariseërs tot werklike selfbesef en inkeer gekom het, weet ons nie. Maar die belangrikste in hierdie verhaal is dat die vrou die lig van Hom ontvang het om nie haar duistere lewe voort te sit nie. Sy het 'n nuwe perspektief op die lewe gekry. Daar was vir haar 'n nuwe begin nadat sy vergifnis van Hom ontvang het.

Hoeveel mense is daar nie wat vandag steeds in duisternis leef nie! Wie se harte gevul is met die doodsbeendere van haat en liefdeloosheid en nog nie deel gekry het aan die lig van Jesus Christus nie! Dit is ook maar net genade as jy Jesus Christus toelaat om sý lig in en deur jou te laat skyn sodat jou lewe kan verander. En as Jesus se lig in jou skyn verander alles: die liefde en verdraagsaamheid vir jou medemens word meer; jou bekommernisse word minder omdat jy dinge in die regte perspektief kan sien; daar is geen donker hoeke in jou hart meer nie sodat jy vry is om in die voetspore van Jesus te loop. Dit is die uitnodiging wat ons van Hom, ons Saligmaker, ontvang.

Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge..” (Ps 43:3).

“Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie." (Joh 12:46);  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6);  “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Joh 8:32).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css