Die Weg

 

Die Here is my banier!

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie ....” - Mattheus 6:34.

Daar is so baie dinge in die lewe waaroor jy jou kan bekommer. Om jou te bekommer beteken volgens die Griekse woord merimnḗsēte in Mattheus 6:34, dat jy uit angs jou aandag verdeel. Volgens die konteks van Mattheus 6 is dit om jou hart te verdeel en te probeer om vir God en Mammon gelyk te dien. Dit beteken verder dat jy jou oog van God aftrek en dit vestig op die rampe wat die mens buite God bedreig.

Bekommernis bring die see van ons lewe in so 'n onstuimige beroering dat ons heeltemal onseker raak van onsself, ons oorgee aan prikkelbaarheid en uiteindelik ineenstort! Om bekommernis van jou af te werp beteken egter nie om jou pligte na te laat nie. Ek moet juis my plig, wat bestaan uit my arbeid in die koninkryk van God, duidelik omskryf en doelbewus nastreef. Dit wil sê, ek moet eenvoudig na God luister en sy bevele stiptelik gehoorsaam. Dit is my deel, die res kan ek dan met vrymoedigheid in die hand van God oorlaat.

Kommer ontstaan, met eerbied gesê, wanneer ek God se deel uit sy hand wil neem en dit aan Mammon wil toevertrou! Is dit dan nie God wat vir die voëltjies en die blomme sorg nie? Sal Hy dan nie sy plig ook teenoor my, wat soveel meer werd is as hulle, doen nie? Nee, voortaan sal ek Hom baie meer kinderlik vertrou. Ek sal elke dag sy sorgende genade uit sy hand ontvang en my reis deur die lewe moedig voortsit onder die vaandel: “Jehova nissi”, dit is: die Here is my banier!

Gebed: Vergewe o Here, waar ek so dikwels gelewe het asof ek geen hemelse Vader het nie. Gee my genade, hemelse Vader, om u bevele in die toekoms stiptelik  te gehoorsaam en my oor niks ter wêreld te kwel nie. Amen.

Uit: Lig en lewe, onder redaksie van ds Norval Geldenhuys (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css