Die Weg

 

Wat sal die toekoms vir my inhou?

Het ek nog die krag om dit uit te hou? Kan ek nog geduldig op my einde wag?” - Job 6:11.

Dit is die vraag wat Job in die diepte van sy ellende vra. Het sommige van ons ook al so gevoel, selfs al het ons nie die lyding van Job self deurstaan nie? Kan ek dan ook vra: waarheen is ek op pad en waar is die einde van my lyding? Waar is die einde van al my baie vrae en die einde van my dorre pad deur die woestyn? Hoe lank sal my geduld beproef word? Is daar 'n einde aan 'n mens se geduld? Hoeveel onbeantwoorde vrae dra ons nie soms in ons binneste om nie?

Maar by sommige met wie dit wel goed gaan in die lewe, is daar die vae vrees dat die dag kan kom waar die mat onder hulle voete uitgeruk sal word. Hoe lank sal dit nog goed gaan met my? Die vrees dat alles wat vir my dierbaar is, of waarvoor ek my lewe lank geswoeg het, van my ontneem kan word!

Die toekoms is vir ons versluier, wie kan sê wat môre gaan gebeur? Een ding kan ons saam met Dawid sê: “Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie.” (Ps 119:96). Daarmee word God se Woord bedoel. God is die Ewige en Getroue. Hy is die doel en die sin van die lewe – ook my persoonlike lewe. God bly dieselfde en sy Woord is ewig, in die hemel en op aarde.

As navolgers van Christus sal ons almal die een of ander tyd die aanvegtinge en stryd van hierdie wêreld in ons lewens ondervind. Dit is 'n stryd wat baie geestelike krag van ons sal verg. Maar as ons in Christus bly en Hy in ons, sal ons nie oorwin kan word nie. “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe”, sê Paulus aan Timoteus (1 Tim 6:12; 53-vertaling) en sê hy later van homself: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Tim 4:7; 53-vertaling).

Ons kan met hoop en vertroue verby die aardse lyding kyk en ons oë vestig op God se koninkryk en sy geregtigheid. Dan sal alles wat ons hier op aarde nodig het aan ons voorsien word. Die belofte staan: “.... beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt 6:33).

God weet waarheen Hy ons lei, en ook waar ons grense lê. Alhoewel ons toekoms nog versluier is, sal God vir ons op die regte tyd nuwe perspektiewe en insigte gee. Ons hoop en verwagtings lê alleen by God. Dit gee vir 'n mens vrede om te weet dat God alles in 'n spesifieke rigting stuur, sodat alle swaarkry, siekte, vrees en hartseer tot 'n einde sal kom. Kom ons ontvang die aangename en Bybelse perspektief vir elke nuwe dag – ons is nie alleen nie en alles werk saam tot ons heil: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom 8:28). Dit ís so, al verstaan ons dit nie altyd nie. In die profetiese openbaring op die Griekse eiland Patmos het God vir Johannes moed gegee. En dit is ook vandag hier vir jou en my: 'Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.' (Openb 21:5-6).

Uit: Glauben und Leben, Jörg Bauer (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css