Die Weg

 

Die enigste vaste fondament vir jou lewenshuis

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” - Mattheus 7:24.

Die Ring van Vuur (Eng: Ring of Fire) is 'n gordel van vulkaniese aktiwiteite wat in die vorm van 'n hoefyster rondom die Stille Oseaan lê. Negentig persent van alle aardbewings oor die wêreld vind in hierdie streek plaas. Ons kan maar net dink aan al die aardbewings in Japan, Indonesië, die Filippynse eilande en Nieu-Seeland. Hong-Kong lê aan die rand van hierdie Ring van Vuur. Daar word dus spesiale voorsorg getref dat die hoë geboue van hierdie digbevolkte stad die aardbewings sal kan weerstaan. Daarom bestaan die fondasies van die geboue uit betonpilare wat op die vaste granietrots diep in die aarde rus. As die aarde sou skud sou die skade aan die geboue redelik beperk wees.

Dit is met so 'n gelykenis wat die Here Jesus Christus dit duidelik maak dat ook óns lewens 'n vaste fondament nodig het, nl die Woord van God. Wie na Jesus Christus se woorde luister en dit doen, bou sy lewenshuis op rots, sodat al die aanslae van die wêreld dit nie ineen sal laat stort nie. Die drie pilare is geloof, hoop en liefde.

Jesus Christus het gesê: “Wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh 6:47). As ons Jesus Christus as ons persoonlike Verlosser aanneem, het ons die ewige lewe. Ons besit dan 'n hoop wat deur geen teëslae in ons lewens geskud kan word nie.

Die Here het aan sy dissipels verklaar: “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly” (Joh 15:10). As ons in Hom glo en gehoorsaam bly aan sy woord, kan ons deel hê aan sy liefde wat strek tot in die ewigheid.

Wanneer ons glo en gehoorsaam is aan die Woord van God, sal ons wel teenstand in die wêreld ervaar (vgl Joh 16:33), maar te midde van al die baie aanvegtinge sal ons steeds vrede in ons harte hê omdat ons ons lewe op 'n vaste fondament gebou het.

- dw -

Met erkenning aan: Näher zu Dir, Tagesandachten 2019; Beröa-Verlag.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css