Die Weg

 

Waar is Jesus in jou lewe?

Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. - 2 Timoteus 2:8.

Ek ontmoet vir Jesus in die Musée Grevin in Parys. Dit is 'n plek waar wasbeelde van bekende persone ten toon gestel word. Dit het my nogal ontroer. Jy sien hoe Hy Jerusalem binnestap. Die mense rondom Hom was so goed afgebeeld dat dit lyk asof hulle luid kon uitroep: “Hosanna, Hosanna!”

Ek sien Hom ook hang aan 'n kruis in misterieuse duisternis. Die hoofman slaan homself juis op die bors: “Waarlik, Hy was die Seun van God!”

Steeds ontroer staan ek 'n rukkie later op die besige Boulevard Montmartre. Die verkeer dreun by my verby. Ek is omgeef van verblindende reklameborde en skreeuende koerantverkopers. Daar sien ek niks meer van Jesus nie. Opeens skiet dit my te binne: hulle het Hom in die museum gesit! Pragtig en ontroerend om na kyk. Maar dan gaan jy weer verder! ..... Dít doen die moderne mens met Jesus........

Wat van jou?

Jy kan Hom opsluit in jou kerk; in die eredienste. Dan het jy jou ontmoetinge met Jesus. Vyf minute lank; 'n uur; 'n halwe Sondag, en dan gaan jy maar weer verder....

Maar met Jesus moet jy nie net ontmoetinge hê nie, met Jesus moet jy saam wees en saam leef! Paulus sê letterlik: hou Jesus Christus, die opgestane uit die dode, permanent in jou gedagtes vas!

Dus: leef altyd met die lewende Heiland!

Hoe wonderlik is dit. Met Jesus die dag in; die dag deur en die dag uit! Dan is my godsdiens nie die dra van 'n swaar las van pligte en dogma's nie, maar volle gemeenskap met die lewende Here.

Omstreeks 1950 het die volgende boeke verskyn (Nederlands): Uren met Pascal; Uren met Calvijn. Goed, laat daar ure wees met hierdie grotes, maar met Jesus moet daar 'n lewe wees!

Wat doen jy, sterweling, met die lewende Heiland?

Alleen kan jy nie verder, geen enk'le skrede ......”

Ds C Gilhuis in “Ontmoetingen” van GN Lammers
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css