Die Weg

 

Om oor te gee

U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat ‘n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was ‘n helper van die wees. - Psalm 10:14 (53-vertaling).

Dit is diepgaande en ontroerende woorde hierbo.

Ons sien hier 'n mens wat vasgeknel is tussen die meulstene van moeite en verdriet.  Hy verkeer in diepe benoudheid. Maar God sien hom en aanskou sy moeite en verdriet. Ja, God sien, maar ... God sê niks. God kyk met die oë waarvan ons sing: “... vriendelike oë is by U van ewigheid”.

Daar gaan krag uit hierdie “sien” van God. God sien ... ”sodat”. God kyk nie met onverskillige oë na jou moeite en verdriet nie; Hy kyk ook nie bloot uit nuuskierigheid nie. Nog minder is daar veroordeling in wat Hy sien, asof Hy sal sê: “Dit is jou eie skuld dat jy so in die ellende sit.” Nee, God se “sien” is 'n uitnodiging, 'n aansporing, 'n aanmoediging om jou in sy hand te gee. Hy kyk na jou verdriet en nood om jou êrens heen te stuur. Hy aanskou jou moeite en verdriet sodat ..... jy dit sal loslaat.

As jy dit nie wil loslaat nie, sal jy dit nooit van jou kan afgooi nie. Jy kan probeer, maar dit help jou niks. Want soos 'n boemerang sal dit des te neerdrukkender op jou siel terugval. Nee, loslaat beteken om dit oor te gee; dit moet 'n bewuste handeling wees waarin jy laat los om dit met vertroue in God se hand oor te gee. Dít sal jou innerlik bevry.

Só kan ons ons moeite en verdriet alleen maar in God se hand oorgee. Die sterkste en liefdevolste mensehand kan nie daardie sekerheid vir ons gee nie. As ons dit in 'n mensehand oorgee sal daar maar altyd 'n mate van besorgdheid en onrustigheid bly hang. Sal dit goed gaan? Sal hy my kan help? Maar by God is ons verseker; Hy steek in Jesus Christus sy hand uit na ons in ons moeite en verdriet. Hy aanskou dit ...

Kom plaas jou moeite en verdriet nou in hierdie Hand wat na jou uitgestrek is! Dit maak nie saak hoe erg dit is, of hoe moeilik dit is, hoe swart dit is, en of jy jou lewe totaal verwoes het nie. Jy kan dit self nie meer dra nie. Jy dra jouself dood daaraan. Dit hoef nie so te wees nie. Jy mag jou lewe in God se hand oorgee.

Uit: De Stem Achter U deur Ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css