Die Weg

 

Alles deur God se seën

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. - Jakobus 1:17

Dit moet diep tot ons deurdring dat alles wat ons besit as 'n onverdiende guns van bo-af op ons neerdaal. Ons moet iets van Jakob se ootmoed en verwondering kry: “ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het" (Gen 32:10, 53-vertaling). Ek is nie waardig om al U gawes en geskenke te ontvang nie.

Ons moet dit toepas op die gewone, alledaagse dinge. Ons moet begin by die dinge wat ons “klein” noem en dikwels glad nie raaksien nie. Ons tree op asof ons reg daarop het, asof dit die natuurlikste ding in die wêreld is dat ons vannag weer lekker geslaap het en ons hele gesin gesond en wel die nuwe dag tegemoet kan gaan. Ons moet 'n bietjie dink aan die miljoene mense in die sogenaamde “agtergeblewe gebiede”. Inderdaad mense wat “agtergebly” het wat God se gawes en geskenke betref. In watter omstandighede leef die mense nie daar nie! Hulle kan met reg vra: “Wat sal ons eet, en wat sal ons aantrek?” Dit ontbreek hulle soms aan die mees elementêre lewensnoodsaaklikhede.

Het jy dalk alles in oorvloed tot jou beskikking. Jy het aan niks gebrek nie. Waarom nou eintlik? Waarom moet jy juis goed gevoed en gekleed wees, in 'n lekker verwarmde huis woon, gesond en fiks wees? Waarom het jy 'n gelukkige huwelik en gesinslewe?

Het jy reg of aanspraak daarop? Is dit die welverdiende resultaat van jou eie prestasie? En die prestasie dan, waar kom dit vandaan? Nee, dit is alles onverdiende genade! “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte” (Jak 1:17; 53-vertaling).

Laat ons die Vader van die ligte dan ook daarvoor dank. Dit is die ware godsdiens: om vanmôre by die deur uit te stap en na jou werk te gaan met 'n blye hart vol dankbaarheid teenoor God.

Waar is die ander nege dan? - Lukas 17:17.

Die opdrag van Paulus om God vir alles te dank (Ef 5:20) is beslis hier van pas. En hoe moeilik vind ons dit nie!

Ons sien in die verhaal van die tien melaatse manne hoe daar slegs één was wat teruggekom het om God te prys. En dít 'n Samaritaan! “Waar is die ander nege dan?”  vra die Heiland toe. Nege uit die tien vergeet om te dank. Vergeet!

“Waar is die nege?” Ja, dit kan Jesus nóg 'n keer vra. Hoeveel mense ontvang nie ontsaglike groot seëninge van God nie! Hulle geniet ryklik van die goeie aan God se oorvloedige lewenstafel. Hulle vee hul monde af ... en stap weg. Om God te dank kom nie eens by hulle op nie.

Ons moet ons houding verander. Ons ontvang só baie en dank só min. Ons moet nou, vanoggend, begin om God se seëninge te tel. “Tel jou seëninge, tel hul een vir een” sing die lied. Dit is goed so. Maar as jy vanaand tuiskom is dit nog nie verby nie. Ja, “as jy tuiskom”. Tel dit daarby in. Jy is miskien laat en jy is moeg. Maar jy kan nog tuiskom. Wonderlik! Daar is vir jou nog so iets as 'n tuiste. Natuurlik wag daar nog 'n nuwe taak en verantwoordelikhede op jou, maar dit is tog ook heerlik! Jy het dalk vanoggend oorhaastig die huis verlaat. Nie eers behoorlik tyd gehad om jou gesin te groet nie. Van bid en Bybellees het daar natuurlik niks gekom nie. Dan doen jy dit vanaand, saam met jou gesin, en rustig.  En wees dan die Samaritaan. Keer terug van jou werk en jou dag om ... te dank. Dank God in alles! Al is jy dan ook net een uit tien.

Uit: De Stem Achter U deur Ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css